Showing posts with label Waverley. Show all posts
Showing posts with label Waverley. Show all posts

Friday 15 November 2013

Ons besoek aan Doulos


Op 15 November vertrek drie van Van Riebeecktak se lede  nl. Yolande Steenkamp, Jolanda Smit en ek self met sakke vol plastiek houers wat bakkies en bottels van enige kleur en grootte insluit, van Bronkhorstspruit af na Pretoria. Ons gaan dit aan Doulos, die armoedebediening in Waverley, aflewer. Dis deur die jaar bymekaargemaak deur VLU Van Riebeecktak se lede.
Daar aangekom, ontmoet ons Mnr. Hans Janse van Rensburg wat aan die hoof van hierdie baie geslaagde onderneming staan.
Hy  vertel ons wat hulle alles doen en hoe daar te werk gegaan word met al die verskillende skenkings. Doulos Gemeenskapsprojek is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat deur 'n droom aangedryf word. “Ons wil diegene wat hulpeloos voel help om weer oor hulle toekoms te droom. Ons wil hulle begelei om hulle drome te leef en om doelwitte te stel en te bereik op die grondslag van liefde, eerlikheid, hardwerkendheid en verdraagsaamheid.”
(Doulos beteken dienskneg)
Jolanda Smit (Vlu Van Riebeeck se sekretaresse) by ‘n volgepakte rak in een van Doulos se vele stoorkamers. Etikette word van blikkieskos afgetrek sodat dit nie weer herverkoop kan word nie. Dit word dan ge-etiketteer en geskenk aan behoeftiges. Konfyt en ander nie-bederfbare kossoorte word in skoon bottels en bakkies gesit voordat dit uitgedeel word.
 

Ons hier by Doulos het nie voor- of afkeure nie, nee hier doen ons wat ons hande vind om te doen elke oomblik elke dag en alles wat ons aanpak doen ons met oorgawe.”


 
Geskenkpakkies word opgemaak en aan kinderhuise, ouetehuise, kerke of waar ookal ‘n behoefte is, geskenk. Alles in so ‘n pakkie, is splinternuut. Doulos bedien verskeie nedersettings en is by vele projekte betrokke.
 
Enige-iets is welkom. Skenkings soos toiletware word in geskenkpakkies opgemaak en aan dames in tehuise of arm gemeenskappe geskenk. Netjiese, nuwe klere word aan gemeentes oral oor die land uitgedeel wat dit op hul beurt weer skenk aan minderbevoorregtes. Nie-bederfbare voedsel word uitgedeel waar nodig. Vars brood word aan arm mense in skuilings in en om Pretoria gegee.
Donasies is welkom. Dit kan inbetaal (gemerk “Blanke Armoede”) word by ABSA DERDEPOORT 9167030529 (Spaarrekening) Art. 18A Maatskappy (Reg no’s 053-086-NPO;RG/0009/10/06). U kan bewys van inbetaling stuur aan epos hans@diens.co.za. of skakel by 0832697082.
Op Doulos se webblad lees ek Hans se woorde: Ek kan die naaldwerksentrum in Codoniastraat 735, Waverley onmiddelik beskikbaar maak waar mense kan kom leer en werk. Die sentrum is pragtig ingerig, lekker koel en beskik oor alles wat nodig mag wees. Daar is baie materiaal wat gratis gebruik kan word en waar mense items kan maak vir hulself of om te verkoop as hulle wil. Hierdie geriewe sal ek alles gratis beskikbaar stel met net een voorwaarde en dit is dat daar behoorlike toesig moet wees. Daar is baie sakke met verskillende kleure en groottes lappe wat gebruik kan word. Verder is ek ook bereid om baie netjiese klere te verpak vir mense wat nie het nie binne gemeentes regoor die land. Ons maak die pakkie op, plaas dit met die persoon se versoeklysie, netjies getik binne-in die pakkie en verseël die pakkie met ‘n masjien sodat dit netjies vertoon en aanloklik is.

Ons drie is bevoorreg om dié naaldwerksentrum met eie oë te aanskou. Daar is een-en-twintig werkstasies. Mense word hier by Doulos opgelei (werkskepping) om hul talente te gebruik en hul passies uit te leef.


Ons bydrae lyk skielik soos ‘n druppel in die emmer. Tog is ons dankbaar dat ons iets kon gee. Ons voorneme vir die nuwe jaar is om baie meer by te dra. Vanoggend het ons iets begin verstaan van wat armoede is en wat gee beteken.
 

Voor ons vertrek skenk Doulos twaalf kartondose southappies wat ons aan Ons Herberg, die ouetehuis in Bronkhorstspruit, se inwoners kan gaan gee. Toe ons in tuis land, gaan laai ons dit af. Groot is die blydskap by die ontvangs daarvan!
 
Yolande Steenkamp, Jolanda Smit en Elizabeth Kendall.
 
Gee aan almal, gee omdat vir jou gegee word.

JOHANNES 6:35
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Om meer te wete te kom van Doulos, besoek die webblad: http://www.armoedebediening.co.za/index.php/af.html