Tuesday, 19 January 2016

'n Kuiertjie

Sy het gister kom kuier. Tannie Ina met haar wit karretjie. Sy stop onder ma-se-akkerboom voor ons huis. Klim tydsaam uit. Sy is al verby tagtig, maar nog jonk van gees. Ek is dadelik bly toe ek haar sien. Party mense maak mens mos so "dadelik bly!" Sy is een van hulle. Van lankal af. Ek ken haar vandat ek vier jaar oud is en ons op die plaas Onverwacht gebly het. As ek haar sien, onthou ek Pa se mielielande en komkommers, die waatlemoene op die groot lorrie en my boeksak van Graad een. Ek onthou die skoolbus en die Hoërskoolseuns se beenhare as hulle verby my skuur. Ek onthou my ouboet op sy fiets en kleinsus in haar stootwaentjie. Dit was lank, lank gelede toe ek nog 'n kind was.

Tant Alie en oom Kerneels was ons bure en 'n foto van tannie Ina, hul dogter, waar sy graad kry, het in hul gang gehang. Ek kon my toentertyd verkyk daaraan. Sy was vir my die mooiste mens op aarde. Blonde hare in 'n rol agter-op haar kop gedraai. Blou oë vol drome.
Van toe af ken ek haar. Toe sy binnekom, gaan maak ek vir ons tee. Rooibos. Lekker. Ons sit langs die rondawel. Die honde lê by ons voete. Heerlik gesels ons oor ditjies en datjies. Later kom Chris by. Korswel en maak grappies. Ons kyk tuin. "Sussa, jy het 'n groot plek, jou tuin is mooi!" Ag ek geniet tog so die grond en die plante en nà die heerlike onlangse reën klap die hele tuin hande van blydskap.
Ons kuier so lekker.

Toe sy loop, sê sy: "Dankie my kind!" 'n Heerlike gevoel van groot blydskap kriewel langs my ruggraat af. Wanneer laas het iemand my "my kind" genoem? Hoe salig is dit nie om dié woorde aan te hoor nie. Dis mos toevouwoorde, omgeewoorde, liefhêwoorde. Die lewe is mooi. Mag ek nog lank "n kind" bly!


2 comments:

  1. Mooi herinneringe Liz, ietsie vir altyd...

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree, altyd lekker as jy inloer!

      Delete