Sunday 2 November 2014

1 November 2014

“Dis alles nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend, stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.

Gister het jy die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.

Die res van die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap, ‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.

Toe dit skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.

Ek het buite langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel.  Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng.  God se liefde en Sy vrede het my weer krag gegee.



6 comments:

  1. So gevoelvol geskryf. Ek hou jou in my gebede Elizabeth. Sterkte.

    ReplyDelete
  2. Sterkte vir julle en beterskap vorentoe vir Chris -- ons dink aan julle.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Vic! Altyd bly om van jou te hoor. x

      Delete
  3. Daar is snikke in my hart Liz, ek huil saam met julle...

    ReplyDelete