Thursday, 25 December 2014

25 Des. 2014: Die jaar waarin ons geleer het hoe om te lewe.

As ek ‘n storie oor hierdie jaar sou moes skryf, sou dit kronkel soos ‘n voetpad. Bult op en bult af. Soms was die sand sag en heerlik koel onder ons voetsole, soms was daar onverwagse dorings. Dan moes ons eers iewers in ‘n skadukol gaan sit om die dorings een vir een uit te haal sodat ons verder kon stap.

Gelukkig was daar altyd iewers lafenis, skadukoeltes. Daar was oases waar ons, ons dors kon les. Daar was uitkykpunte waarvandaan ons weer perspektief op die toekoms kon kry. En daar was deurentyd Liefde. Die wete dat ons hemelse Vader by ons is in elke klein en groot gebeurtenis, was heeljaar lank ons grootste troos. Sy liefde en trou was daagliks deel van ons kom en gaan. Ons kinders se onvoorwaardelike liefde het ons gedra. Ons familie en vriende se omgee, ondersteuning en lojaliteit was ‘n anker.

Dis Kersfees. My hart is vol dankbaarheid teenoor die Here. Ryke seëninge het ons bedou, ons het die goeie dinge aanskou. Waar daar pyn en siekte was, het Hy genesing gebring. Ons kinders is jong olyfboomplante wat uitspruit om ons dis. Ons geniet die voorreg om ons kleinkinders te aanskou. Ja, saam met die pelgrims van die Bybel sing ons ‘n loflied tot eer van God op hierdie mooi dag.



Geseënde Kersfees aan almal wat hier lees. Mag jou Kersfees ook ‘n ware Christusfees wees.  

Saturday, 13 December 2014

‘n Nuwe hoofstuk

Dis Saterdag hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos ‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir elkeen wat hier lees  ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©

Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©

Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes  aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©

Toe hierdie dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.




Sunday, 2 November 2014

1 November 2014

“Dis alles nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend, stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.

Gister het jy die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.

Die res van die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap, ‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.

Toe dit skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.

Ek het buite langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel.  Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng.  God se liefde en Sy vrede het my weer krag gegee.



Saturday, 20 September 2014

Terapeuties

Om te kan skryf oor dié dinge wat naby jou hart lê, is terapeuties, sê dié wat weet. Mense vind aanklank in jou woorde. Mense deel ook dan makliker hulle diep verhale met jou. Ek kan my so dikwels verwonder aan die skakel wat daar is tussen mens en mens. Die bewuswording van ons eendersheid, ons weerloosheid, ons menswees. Die besef dat alles op aarde net tydelik is, van verbygaande aard. En die wete dat ons die beste uit elke dag en elke geleentheid moet haal. Ons lewe net een maal. 

Vanoggend skryf ek toe maar 'n gedig vir jou my man. Vandag was 'n minder aangename dag nà laas week se chemo. Maar daar is hoop. Altyd. 

Eendag weer


hierdie dae drup een vir een
langsaam verby onder
blou bome en  bloedrooi lug
kyk hoe hang
die bloureën oor die muur vanjaar
my kaalkopman -
hoor jy die kwikstertjie,
sien jy sy wip as hy staan,
as hy gaan
wens jy ook dis al November
Elizabeth Kendall ©


Wednesday, 13 August 2014

Dis die lewe.

11 Augustus 2014.
My Pa het altyd gesê die lewe is nie 'n piekniek nie. Dis asof ons marionette in ‘n poppespel geword het. Trek dié toutjie, dan maak ek so. Trek daai toutjie, dan maak ek sus. Meganies. Op elke stukkie nuwe ervaring reageer ons sonder om té veel te dink. Dink is skielik nie meer so lekker nie. Slaap is lekker. Wegraak. Onbewus wees. Onbewus van jou worsteling, jou stryd, myne.
Besig wees is ‘n antwoord. Maar wat van jou? Jy kan nie nou besig wees nie. Jy is net. En daar buite wag die wêreld vir niemand nie. Die son kom op. Die son gaan onder. Dis nuustyd, ontbyttyd, middagete, aandete. Kos proe na niks.
Ek hou jou hand in myne. Ek bid vir jou vir ‘n rustige nag. Ek bid dat God jou moet genees. As Hy wil. Jou klere word al groter. Jy word al kleiner. Die siekte hang oor jou soos ‘n onweerswolk. Dis in jou bene, jou arms, jou hele lyf. Die dokter sê dis net op jou long. Jou regterlong. Kanker. ‘n Skrikmaakwoord van altyd af.  ‘n Bangmaaksiekte.
Mense bel of stuur boodskappe. Baie vra vrae. Ons antwoord uit die dokter se mond. Ons sê die woorde op soos ‘n resitasie. Onkologie. Chemoterapie. Bestraling. Siklus. Bloed trek. Biopsie. Party mense stuur Bybelversies op whattsapp of facebook. Die min familie wat oor is, vou ons toe in hul omgee. Ou vriende van lankal word weer splinternuut. Kennisse stel belang, bemoedig. Vreemdes bid. Alles troos. Elke klein gebaar van omgee en liefde word vasgegryp en gedeel. Dankbaar.
As ‘n nuwe dag begin, vul Hy ons harte met nuwe hoop. In die tuin begin die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Lente. Uitbundig lag ligpers gesiggies in die pot. Ek spuit die vaal gras nat, maak die voëls se waterbakke vol. ‘n Snik ruk deur my lyf, kloof my hart. My liefste Chris.
12 Augustus 2014. Vandag word Liesl geopereer. My Bokkiekind. Ses minute jonger as haar tweelingboetie. Ses minute kan soms so ‘n groot verskil maak. Tumor in die spinale koord. Vandag se bult is steil, maar die Here help ons tree vir tree. Ek weet dit net. 
Toe jy vanoggend opstaan, lyk jy beter. Nie gesond nie, net beter. Beter as gister. Ek maak vir jou roereier met stukkies skaapvleis in. Jy eet alles op. Ons hou hande vas as ons bid. Ons bidwoorde vlieg  partymaal sommer so sonder koers die dag in. Gedagtes met vlerke. Hoop hou nooit op nie.
Die whatsappgroep wat John en Liesl begin het om almal op hoogte te hou van haar vordering,  is bedrywig. Kort-kort pieng my foon. Toe sy uiteindelik uit die teater is, is ek dankbaar en verlig. Toe John ‘n foto stuur van haar, jubel my hart. Prys die Here, die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Vanmiddag maak ek kos. Een koppie rys, twee en ‘n halwe koppie water, ‘n knippie sout, ‘n bietjie botter. Vier stukkies steak in die pan, groente in ‘n ander kastrol. Ek maak die groente te gou gaar. Die rys prut nog. Totaal uit oefening met die kosmakery, maar ek sal leer. Hoeveel jaar is dit nie nou al dat jy my bederf het en ek nooit aan kosmaak gedink het nie? Amper twee dekades. Dis net ‘n kwessie van goeie tydsberekening, sê jy geduldig.
(Hy eet weer alles op, sê my kos proe lekker. My gentleman.)
Laatmiddag sit ons rustig en rooibostee drink onder die appelkoosboom. Die honde speel naby ons, knibbel  en lek aan mekaar. Ou Hagar gooi sy swart Labradorpoot oor Brakkies se worshondlyfie. Liefdevol, beskermend. 

Wednesday, 6 August 2014

Nawinter.

3 Aug. 2014. Sondagmiddag. Dis stil. Net ek en my gedagtes. En jy speel die hoofrol. My liefste Chris. Hoe het hierdie ding gebeur? Tumor, bestraling, biopsie….nuwe,  ou woorde wat net na ons toe aangehardloop gekom het die afgelope dae, ongevraagd. Woorde wat mens eintlik nie wil hoor nie, maar dié keer het jy nie ‘n keuse nie.  Woorde wat ons nader na God bring, want nader na mekaar, dink ek kan ons nie. Ons het mekaar lief en ek bid vir jou die beste. Ons  glo vir jou die beste.

6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit. Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe.  Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” . “Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê.  Ek het my trane weggevee en geluister, al wou ek nie.
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil  vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos.
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers beleef.

Friday, 20 June 2014

Instandhouding


Gister hoor ek oor RSG as mens 'n blog het, moet jy dit in stand hou. Nouja, hier is ek! Besig met instandhouding. 
Vanoggend weer vroeg wakker, heerlik tussen die warm komberse gelê en lees aan die Vroueblad. Vandeesmaand se tema is "huise". Ons almal weet "as die Here die huis nie bou nie...." Ons weet ook dis nie die buitekant van 'n huis wat 'n huis maak nie, maar die binnekant: die mense wat daarin woon, die liefde wat gedeel word, die saamwees, die lag, die huil. "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby" (Spreuke 17:1) 

Hier in ons ou huis met die plankvloere is vrede. Vrede en liefde. En ek is so dankbaar daarvoor. 


Die winter lê op die oomblik die hele tuin vol. My vetplante huil. Die gras is vaal. Die wilde knoffel sukkel. Soggens staan die kaal akkerboom donker afge-ets teen die koue winterlug. 'n Verdwaalde hadida gil sy "hallo's" vanuit die hoogste takke van 'n denneboom.
Tog weet ek dis alles net tydelik. Dié wete verbly my grootliks. Dis soos musiek in my binnekamers. En ek hou styf vas daaraan met yskoue vingers. 

Bo in die anaboom se wintertakke sit 'n opgepofde rooikophoutkapper: 'n vrolike flenter kleur teen die ysblou lug.   

Tuesday, 27 May 2014

Kirstenbosch, hier kom ons!

Van al die lekker en interessante dinge wat ons in één week se kuier- en vakansiedae ingepak het, was die besoek aan Kirstenbosch vir my die heel lekkerste. Natuurlik was ons stom van verbasing toe ons verneem dat die mense by die Burgersentrum (Civic Centre) in Kaapstad nog nooit in hul lewe van Kirstenbosch gehoor het nie.


Die Burgersentrum.
 
 Hoe heerlik proe die vars vis van die Kaap tog nie vir ons binnelanders nie!
 
Maureen geniet 'n Kaapse hamburger, iets wat sy seker min aan die tuisfront sou eet !
Ons plan was om met 'n bus of taxi by Kirstenbosch te kom, maar niemand het geweet waarvan ons praat nie. 'n Ouerige Kleurlingman het gelukkig tot ons redding gekom en ons na die naaste taxi begelei. R100 later stap ons die lieflike tuine binne, taamlik honger en redelik dors.

Aan die voet van die bekende Tafelberg in Kaapstad is die Kirstenbosch Botaniese Tuine. Dit is die tuiste van ‘n indrukwekkende versameling inheemse Suid-Afrikaanse plante en beslaan ‘n ongelooflike 528 hektaar. Die Liesbeekrivier gee water aan die tuine en die totaal-indruk wanneer die besoeker rondom hom kyk, gee gestalte aan die grafskrif van professor Pearson, die eerste direkteur van Kirstenbosch Botaniese Tuine: “If ye seek his monument, look around.”  Die nalatenskap van mense soos professor Pearson sedert die stigting van die tuine is een van trots en natuurlike skoonheid.

 

Cecil John Rhodes was die eienaar van die grond waarin die tuine is, maar het dit na sy dood in 1902 bemaak aan die nageslag. Op die talle wandelpaaie kan besoekers ‘n besondere versameling van natuurlike woude en plantegroei uniek aan Suid-Afrika besigtig. Die tuine maak deur middel van die Silwerboomwandelpad en die Wewervoëlpad voorsiening vir gestremdes in rystoele terwyl die Silwerboomroete en die Geelhout- en die Stinkhoutroetes meer uitdagend is en ongeveer drie ure neem om te voltooi.

Ons het saam met Patrick Peterson, ons gids, in sy golfkarretjie gery. Saam met ons was 'n egpaar van Nieu-Seeland. Vir elkeen van ons was dié uurlange toer 'n sielsverrykende gebeurtenis. Patrick het sy liefde en kennis van al die verskillende plante ruimhartig met ons gedeel. Die feit dat baie van die kruie in die park medisinale waarde het, dat name soos boegoe, laventel, wynruit, wilde-als en knoffel, gemmer en duiwelsklou nog lank deel van ons lewens gaan wees, is verblydend.

Gesiggestremde besoekers is ook welkom en hulle kan die Braille-roete volg deur middel van aanraak en reuk en borde wat alles in Brailleskrif verduidelik. Aangesien hierdie roete ook ‘n besondere ervaring bied ten opsigte van aromatiese inheemse plante word siende besoekers ook aangemoedig om die roete volg waar daar ‘n wyer sintuiglike ervaring as net die sigbare moontlik is. ‘n Roete, bekend as die Skeleton Gorge, volg die roete wat wyle generaal Jannie Smuts gereeld gestap het en eindig bo-op Tafelberg met sy asemrowende uitsig.


Hierdie bome is glo toentertyd deur Jan van Riebeeck aangeplant. Oeroud dus.

Kirstenbosch Botaniese Tuine bevat ook ander besienswaardighede soos die Botaniese Vereniging se konserwatorium, die Skiereilandtuin (oor die 2 500 plantspesies op uitstalling), die Watertuin, die Aromatiese tuin, die Protea-tuin, die ‘nuttige plante tuin’ en Van Riebeeck se Heining wat in 1660 deur Jan van Riebeeck geplant is.
Die groot verskeidenheid, prag en geskiedenis van inheemse plantegroei van Suid-Afrika kan by die Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad ontdek word en dis ‘n inspirerende en fassinerende fasiliteit. Om tussen lewende plante te loop en versierings van Zimbabwiese beeldhouwerk te ervaar, is uniek. Die verskeidenheid restaurante en teekamers dra by om jou siel te verryk. ("Inligting vanaf webblad")

Oral om ons was skoonheid, soos 'n mens net in die natuur kan kry. Ek het die vars lug diep ingeasem en die heerlike reuk van verskeie kruie en plante my eie gemaak. Diep hier binne het ek geweet vandag is een van die saligste dae op aarde. Die lewensblyheid en plesier om sy kennis te deel, wat ons gids uitgestraal het, het natuurlik ook bygedra tot dié dag se vreugde. En buitendien was dit mos ook lekker om alles te kon deel met my eersgeborene.

Patrick Peterson en Maureen op die nuut oopgestelde plankie-pad in Kirstenbosch.
 
Wat 'n heerlike belewenis om hier te kon loop en 'n mens se oë oor die bome en berge te laat galop. Dié "blaredak loopvlak" (wat ook die "boomslang" genoem word) is op 20 Mei 2014 geopen. Dit het twee jaar geneem om te voltooi. Dit begin op die grond en kronkel soos 'n wafferse boomslang al hoër en hoër totdat mens bo-oor die bome heen kan kyk. Van bo af is daar 'n pragtige uitsig oor Kirstenbosch, Tafelberg en die Kaapse vlaktes in die verte.
 
 'n Selfoonfoto van my. Nee, ek was nie bang nie, al het die plankiepad effens gewieg. Die mooi om my was trooskos. Die luislang-pad is 130 meter lank, 11.5 meter hoog en die houtrelings en staalkonstruksie is stewig en duursaam. Dit het vyfmiljoen Rand gekos om te bou en dis boonop ook rolstoelvriendelik.
 
Kom kyk die video (klik op die skakel)
 
 
Kirstenbosch is een van agt Nasionale Botaniese Tuine wat oor vyf van Suid-Afrika se ses verskillende biome versprei is. Die tuin is 560ha groot en die grond is in 1902 deur Cecil John Rhodes geskenk aan die nasie.
Toe Kirstenbosch, die mees bekende van die Tuine, in 1913 gestig is om die land se unieke flora te bewaar, was dit die eerste botaniese tuin ter wêreld met hierdie etos. Wat hierdie Tuine verder wêreldwyd bekendmaak is dat slegs inheemse plante verplant word.
Vanaf 1 September 2004 staan die Nasionale Botaniese Instituut bekend as die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI). ( Inligting)


Ek sou vir dae en dae hier kon rondloop en my verlustig in alles om my heen. Een dag was te min en ek hoop dat ek eendag vorentoe weer dié wonderlike voorreg mag geniet!
 

Friday, 18 April 2014

Branderig, maar so soet en vars soos dou!

Toe my niggie kom kuier, bring sy 'n botteltjie peppadew-sous en 'n handvol daarvan saam: "Laat dit droog word en dan saai jy die pitjies." Ek luister mooi. Sy is immers een hele jaar ouer as ek. ;-)

Die klein, rooi peppadews lê in die houtbak op ons kombuistafel. Rustig. Nà 'n tyd is hulle verkrimp en vol plooie. Ek sny een vir een oop en saai die saad in die tuin en in 'n pot vol heerlike komposgrond. Nie lank daarna nie, verskyn die groen plantjies. Dié wat in die pot geplant is, is drie maal groter as dié wat sommer net so in die grond gaan lê het. Hulle groei egter almal na hartelus.
Ek verkyk my aan die vreemde plante.

 


 
Soos klokkies hang die groen peppas aan die stele. Dit word later rooi, maar voor dit gebeur, ontdek die voëls die lekkerny en kou yslike stukke daarvan af. Ek "red" hulle en gaan bêre dit in 'n mandjie in my kombuis om sonder steurnisse verder te verkleur.
 
 
Die kleineres laat staan ek en hou dit met 'n arendsoog dop, nie seker of dit wel voëls is wat wil saam eet nie. Op die internet lees ek dat hierdie interessante plant nie baie lank gelede hier in Suid-Afrika ontdek is deur 'n sakeman-en-boer in sy eie tuin. Dit lyk vir hom toe na 'n mengsel tussen rissies en tamaties.
 
Gingerly, he bit into one. It had a unique, delicious taste – a mixture of peppery and sweet, but with a distinctive flavor. Rightly believing that he had hit upon something really new, he saved seeds from the ripened fruit of the mother plant , cultivated the seedlings, developed the secret recipe with which to process the fruit and gave the processed fruit the name PEPPADEW® (they are obviously peppery but are as sweet and tantalizing as the dew).
 
Nouja, onnodig om te sê, ek is heel opgewonde oor die oes en sien uit na wat my inwonende kok alles daarmee gaan vermag. Hoe gelukkig kan 'n vrou tog nie wees nie!

 
En as jy dalk nie weet nie, dit proe glo heerlik op toebroodjies en in slaaie, saam met kaas of selfs gevul met kaas.....mens kan dit op enige manier geniet en verorber.
 

Saturday, 29 March 2014

ECHEVERIAS IS WONDERLIK



Die liefde vir tuinmaak is in die gene. Onlangs kom ek op 'n koerantuitknipsel, geskryf deur Anna Celliers, af oor "Tuinlewe".  My oorlede Ma het dit jare gelede uitgeknip en gebêre. En ek het dit bewaar. Dit was lank voor die tyd van rekenaars en blogs en sulke dinge. Ek voeg my eie foto's en soms eie gedagtes by, lekker lees!
Eheverias of soos ons dit ook noem, woestynrosies, het heelwat volksname. Skaamrosie en kliprosie is twee daarvan. As ‘n mens hulle begin versamel en leer hoe om hulle te vermeerder, is dit klaar met Kees! Dan kan jy maar weet die tuingogga het jou genadeloos en ernstig gebyt.
Hierdie gewilde rosies se vorm en tekstuur maak dat mens onmiddellik op hulle verlief raak. Hul perfekte rosetvorm en lieflike loofkleur wat wissel tussen ysblou, duifgrys of dofgroen dwing eenvoudig elkeen wat hulle in hul hand mag vashou, se bewondering af. Loofkleur is altyd ook meer intens in die herfs en lente.
Uit een roset wat gelukkig en tevrede groei, ontwikkel daar gou dik en vlesige stele met nog rosette wat weens hul gewig op die grond lê. As hulle in groot potte geplant word, hang die vet rosette later oor die rant-‘n geil gesig! Echeverias is dus ideaal vir tuinhangmandjies en vertoon pragtig op balkonne.


 Bo: Echeveria Setosa






 Echeverias hou –anders as ander vetplant en kaktusse wat lang tye sonder water kan oorleef- daarvan om gereeld water te kry. Blomstringe aan lang stele wat ver bokant die blare uitstaan, verskyn in die lente en somer. Baie soorte blom ook in die winter. Die woestynrosies blom herhaaldelik in verskeie seisoene.
Soggens vroeg, of nà ‘n reënbui, is die dou- of reëndruppels soos blink pêrels in die hart van elke roset en dan is hulle vir my op hulle mooiste.
‘n Paar gunstelinge: 
Echeveria agavoides: ‘n Enkele stamlose roset wat taamlik groot kan word voordat daar kleineres aan die basis begin uitgroei. Saam maak hulle later digte polle. Die blare is soms donkergroen, soms bleekgroen – na gelang van die kweektoestande. Die blare is skerp en gepunt en die rande is bloedrooi. Die fyn blomstele is nie opvallend by hierdie spesie wat ook meer koue en droogte kan verdra nie.
Echeveria deranosa: Die plant vorm baie diggepakte rosette met ronde, grysgroen blare met maroen rande. Dit dra geel blomme aan lang stele.
Echeveria “Metallica”: ‘n Stywe, gloeiende roset met gladde,lepelvormige blare met helderpienk  en grys tinte.  
Echeveria gibbiflora “Rosea”: Die stamlose, kompakte groeier lyk heeltemal anders as die gewone echeverias. Die blare is seegroen, erg gekarteld en sag. In dié spesie is ‘n geweldige variasie wat ander soorte met helderkleurige, gekarteld blare insluit wat regtig groot word en ‘n mens aan ‘n vulkaan herinner. Hulle is ongelukkig skaars in die handel en volgens kwekers nie so maklik om te vermeerder nie. 
Echeveria runyonil “Topsy Turvy”: Digte, stamlose rosette met poeierblou of grys blare wat terugkrul en hulle ‘n onderstebo voorkoms gee. 
Echeveria shaviana x affinis “Black Prince”: ‘n Digte roset met sjokoladebruin blare met skerp puntjies. Volson verdiep die kleur van die blare, terwyl ligte skadu die ryk loofkleure verbleek. Hy dra bloedrooi blomme in die laat herfs.

DINGE OM TE WEET:
Tuiniers wat geduld het, kan bloot ‘n paar blare van ‘n roset lostrek en op ‘n koerantpapier gooi in ‘n plat kartonboks wat in die koelte gehou word. Binne ‘n paar weke sal helderpienk worteltjies uit die blaarbasisse verskyn en dan kan dit in potjies in ‘n klam sukkulentmengsel geplant word. Wag ‘n paar dae vir die wortels om anker te skiet in die grond en gee dan eers water.
Individuele rosette kan ook uit ‘n welige plaat plante verwyder word en ongeworteld op ander plekke oorgeplant word. In so geval moet die grond eers liggies klam gehou word, anders vrot die plante.
‘n Voortplantingsmetode wat baie plesier gee en goeie dekorwaarde het, is om rosette met ‘n kort steeltjie aan, van die moederplant los te sny en in ‘n helder verligte vensterbank in die nek van leë glasflesse of ou wynbottels uit te stal. Moenie water in die flesse of bottels gooi nie, hulle moet droog wees.
Binne ‘n paar weke sal die ogies aan die stamme wortels spruit en dan kan jy sommer ‘n kitsplant met wortels en al in ‘n pot plant.
Terwyl hulle in die vensterbank staan, het jy iets om mee te spog en waaruit jy hope plesier kry, want almal wat kom kuier, kyk daarna en vra vrae.
Menige jong tuin-entoesias het al op dié manier ‘n lewenslange belangstelling in tuinmaak ontwikkel wat met steggies begin het. 

 Is dit nie wonderlik nie! 'n Blaartjie val op 'n klip en nà 'n tydjie verskyn 'n piepklein roset....die begin van groot dinge! Tuinmaak vervul my keer op keer met verwondering en bewondering.

Tuesday, 18 March 2014

'n Heerlike uitstappie

Vandag skyn die son. Dis Dinsdag, die 18e Maart 2014 en ons gaan op 'n uitstappie. Hoe wonderlik dat die weer saamspeel. Die afgelope weke het ons so baie reën gehad. Natuurlik is ons dankbaar, maar ai, dis darem ook lekker om weer die son te aanskou! VLU Van Riebeecktak gaan vandag een van die bome van die jaar nl. die laventelboom, plant.  Bo ons koppe is die lug oop en skoon.

 Op die kerkterrein van NG Nooitgedacht is 'n netjiese gat gegrawe.


Yolande Steenkamp is die sameroeper van hierdie vergadering. Ons almal het dit terdeë geniet.


Heteropyxis natalensis is 'n lieflike boom om in  jou tuin te plant. Dit het 'n mooi vorm en voorkoms. Die bas is ook baie aantreklik. Dis 'n kleinerige, ornamentele boom. In kouer dele vertoon dit pragtig in die herfsseisoen voordat die blare afval. In warmer dele is die boom immergroen. Gekneusde blare en takkies ruik sterk na laventel. Heerlik!
Familie: Heteropyxidaceae  (Laventelboom familie) 
Waar kom die naam vandaan? Heteropyxis – van Grieks ‘heteros’, wat "verskillend" beteken en Latyn 'pyxis' wat 'n "bottel of deksel" beteken, verwysend na die vrugte wat verskil van die Mirtelfamilie. Natalensis – van Natal, nou KwaZulu-Natal.


Dit kan 4-8 meter hoog word en is omtrent 3-5 meter breed. Dit het eenvoudige blare met gladde rande, die blomme ruik soet en is geel-romerig van kleur. Wanneer dit begin kouer word, verander die blare se kleur is lieflike geel, bruin, rooi en pers kleure. Die vrugte is ovaalrond, klein en bars oop wanneer dit ryp is. Daar is vier saad-kompartemente binne-in. Die bas van jong stamme is bleek-bruin, glad en soms krummelrig. Op ou stamme is dit bleekgrys, bruin en het 'n pienkerige tot oranje ondertoon. Die aantreklike kollerige spatsels kleur van ouer stamme is 'n uitstaande kenmerk van die laventelboom. Die bas "skil" af en maak 'n pragtige vertoning. ('n kunstenaar se droomskildery!) 

(Elkeen van ons het 'n beurt gekry om 'n graaf grond in die gat te gooi. Lieflike ryk, rooi grond)

In ons tuine is die laventelboom beslis een van Suid-Afrika se aantreklikste kleiner boomsoorte. Dit vertoon pragtig in kleiner tuine. In groter tuine kan dit in groepe aangeplant word vir meer effek. Dis 'n baie goeie boom vir 'n wildlewe-vriendelike tuin, want dit lok insekte en voëls. In 'n groot pot geplant, maak dit ook 'n baie mooi vertoning. Die laventelboom is ook 'n gewilde bonsaiboom. Dit groei vinnig, tot een meter in 'n jaar. Dis maklik om te onderhou. Voed dit met organiese voeding of kompos en beskerm jong boompies teen koue. Dis rypbestand, maar moet beskerm word wanneer dit jonk is. Dit hou van vol son, maar sal ook gelukkig wees in gedeeltelike skadu. Skoenlappers hou van die blomme en voëls wat graag insekte vreet, word deur die laventelboom aangelok. 

(Luitha weet van bome plant!)
Dit het ook medisinale voordele: 'n heerlike tee kan van die blare gemaak word. Blare kan ook, wanneer tot 'n vloeistof gekook word, gebruik word om verkoues te voorkom. Die wortels en takkies se sap kan gebruik word om tandvleisontsteking en infeksies te beveg. Boombas word gebruik as teenmiddel vir impotensie.
Koedoes, duikers en swart renosters is baie lief om die blare te vreet. Die blomme lok bye, skoenlappers en ander insekte. Die hout is swaar, hard en sterk. Dit word meestal gebruik vir heiningpale. Blare word gebruik vir potpourie en parfuum.
(Marietjie weet van graaf hanteer! )
 

By Ezemvelo, naby Bronkhorstspruit, is daar heelwat laventelbome te sien. Dit word aangetref in KwaZulu Natal, Noordwes Provinsie, Gauteng, Mpumalanga en ook in Zimbabwe.
(Inligting deur my in Afrikaans vertaal, verkry vanaf Witkoppen Kwekery.)


(Niks beter as 'n netjiese paar crocs om die grond vas te trap nie!) 



En kyk nou net! 'n Laventelboom is geplant vir ons nageslag om te geniet. 
(Jolanda, Marietjie en Yolande)

Herfs is mooi

Herfs kom vroeg vanjaar of verbeel ek my? Aan die buitekant van ons erf staan 'n boom waarvan die blare elke dag anders lyk. Elke dag meer geel, meer bruin, meer herfserig...



Herfsvreugdes

As herfs sy bruine en sy gele
en sy pasella rooi
oor my werf in warrelende blare strooi
dan jubeljuig ek sommer so vanself
want geen seisoen maak my so baie bly
as hierdie een met sy sagte
 tusssen-in seën

Elizabeth Kendall ©