Tuesday 11 March 2014

Internetloos


Ek wil-wil myself jammer kry. Dis vandag die derde lang dag sonder internet. Die eerste een was nie so erg nie. Oudergewoonte was ek baie vroeg wakker en het gesien net vier van die vyf modemliggies brand. Ag tog! Ek het ge-Bybel en gebid en gekoffie en moes vroeg saam met Jolanda  ry om Pretoria Streekkonferensie van die Vroue Landbou Unie te gaan bywoon. Heimlik het ek gehoop die vier brandende modemliggies sou weer vyf wees as ek terugkeer.

Helaas! Dit was toe nie die geval nie. Ek het my diensverskaffer gebel. “Dis Escom se loadshedding!” is aan my gesê. “Dit het oral groot probleme veroorsaak! Jy sal Telkom moet bel.”

Om Telkom te bel, sit nie in elke ou se broek nie. Dié van julle wat dit al gedoen het, sal weet waarvan ek praat. “To report an existing problem, press one! “ “To do this...press two! To do that...press three!” “Klangelêngelêng!” speel onaardse musiek in my ore. “Thankyou for your patience! Our service consultants are all busy at the moment. We will answer your call as soon as a consultant is available!” Oor en oor. Oor en oor. En ek hou aan. Ek luister wraggies daarna. Oor en oor. Niemand doen moeite om die foon op te lig aan die anderkant nie. Niemand. Na ‘n uur is ek moeg.

Later probeer ek weer. Geduld is die wagwoord. Na tien minute antwoord ‘n witman. Sela. Engelse aksent. Sy naam is Chris. Amper soen ek hom dwarsdeur die telefoon. Hy vra ek moet die modem afskakel. Ek doen dit. Skakel weer aan. Hy toets dit waarskynlik aan die anderkant, ek hoop en dink so. “There is a problem with the exchange!” Hy vra my selnommer. Hy sal dit rapporteer. Hulle sal vir my ‘n "fault"-nommer stuur.

“Hoe lank gaan dit vat?” vra ek die “million dollar question” op my mooiste Ingils.

“Difficult to say. Maybe tomorrow...” probeer hy my troos. Ek weet dis nie waar nie.

Dis nou al oremôre en niks het gebeur nie. O, ek het Vrydagaand ‘n sms gekry wat sê die ADSL is “restored”. Ek kyk. Nee, dit is nie. Ek stuur ‘n groot “NO” as antwoord terug aan wie ookal in ‘n droomwêreld  lewe.

Saterdagoggend het ek ‘n faultnommer per sms gekry. Die derde dag. Dit reën en reën. Niemand sal “exchanges” regmaak as dit so reën nie. Nog reën word voorspel. Intussen gaan my foon ook van die MTN netwerk af. “Yellow!” antwoord die MTN-stem. Ek wil amper sê “BLUE! Not yellow”, maar laat hulle begaan. Gelukkig word die foonprobleem redelik gou opgelos. Daar was fout met een of ander “setting”.

Ek bel my diensverskaffer om te hoor wat hy sê.

“Wat gaan aan?”

“Ons het gehoor MTN het ook gecollapse!”

Ek wil sommer ook koelêps.

My tweeling verjaar vandag. 33 jaar oud. Ek was 33 toe ek hulle gekry het. Wonderlike seëninge, altwee is gelukkig getroud. Ek stap deur die tuin, probeer om nie aan die klein-jakkalsies-wat-wingerde-opvreet te dink nie.  Dit voel asof my naelstring met die res van die wêreld afgeknip is, sommer netso, sonder enige waarskuwing. Dis goor.

Môre is Sondag. Ek het min hoop dat daar op ‘n Sondag iets gedoen gaan word om die toestand te verbeter. Wat my pla, is dat ek betaal daarvoor. Baie. En ek kry geen diens nie. Nul per mond. Ek voel soos ‘n pasiënt.  

Iewers in die nag se kleinste ure word ek wakker. Ek lees Solly se boek en ek praat met die Here.

Ek wonder oor VLU Noord se uitnodiging aan my as “Kunstenaar van die Jaar”. Ek beter begin dink wat ek gaan sê, wat ek gaan doen, wat ek gaan saamneem. Meimaand is nie meer so ver nie. Ek ruik die reën en die nattigheid in die tuin onder die donker bome toe ek Brakkies uit laat gaan om te piepie. Doodstil in die nag. Die fontein se water is die enigste geluid wat ons hoor. Dit bring vrede en kalmte. Ek gaan maak vir my koffie. Dis half vier op ‘n Sondagoggend. Daar is iets heerliks aan alleen wakker wees. Ek tel my seëninge een vir een.

En so het nog ‘n dag vebygegaan. Ek het myself besig gehou met ander dinge, met Chris gekuier en musiek geluister. Aand se kant bel ek Telkom. Om ‘n lang storie kort te maak, die knap konsultant aan die ander kant laat my toe, seker uit desperaatheid, ‘n tandestokkie in die modem druk. Sy verwys my na ‘n “high level fault”-konsultant. Lg. reken sy kan my nie help nie, my diensverskaffer moet. Ek bedank haar innig...vir niks... en sit die foon neer.

Wat was my verbasing groot, toe ek sien VYF liggies brand by die modem! Dit lyk soos “Sun City” hier onder die tafel! Jubelend skakel ek die rekenaar aan, net om weer teleurgestel te word. Google wil nie oopmaak nie, geen konneksie. Ek bel vir Anton op die heilige Sondag. “Meisiekind, daai tandestokkie het gemaak dat jy jou “password” verloor het!” Ag tog. Wat is ‘n pensioenaris nou sonder ‘n password?  Hy belowe om môre ‘n draai by my te kom maak en alles te herstel. Ek loer na die vyf troosliggies.

Vandag is môre. Die vyfde dag sonder internet. Dis Maandag en dit reën en reën. Plas-plas-plas, val die druppels hier buite op die plaveisel. ‘n Nuwe, nat dag lê voor.  Kom ons kyk wat gebeur vandag.

Hoera!! Die diensverskaffer-jongeling het Maandagoggend redelik vroeg alles kom opfix! Nuwe password ens. ingesleutel. Alles werk weer. Klopdisselboom. Of laat ek liewer sê: “connected”!

Is dit nie ‘n storie dat ons so afhanklik is van dié dinge nie? Dis maar hoe dit is in 2014. Hoe gaan dit wees oor ‘n geslag verder wonder ek... 





Monday 10 March 2014

Ons hou konferensie

Op Woensdag 5 Maart  het ek saam met Susan in die reën Pretoria toe gery waar ons ‘n uitstalling moes gaan “bou” vir  Pretoria Streek se konferensie.
Toe sy voor ons huis stop, het dit gesous. Soos dit al sous van laas week af en nog steeds gaan sous tot Vrydag, sê die manne wat weet. Ons was uitasem en natgereën toe alles uiteindelik in die motor gelaai is. Chris het oral gehelp en my Brakkies-worshond het alles bekommerd staan en bekyk agter die toe hek. Waar gaan sy Ounooi dan nou in die nattigheid tog heen? Hy het so klein en verlore gelyk op sy bal-en-kloupootjies. Gelukkig het ek geweet hy sou tevrede wees om by sy baas te bly en in sy warm bedjie te lê en slaap en wag.  Hagar, ons ou Labrador, het nie eers uitgekom om te kom groet nie, hy het van beter geweet!

Ons het heerlik gekuier en gesels op pad na Pretoria. Dit het een hele uur geneem om daar te kom, want die pad was nat en glad en ons was maar liewer versigtig.
 Hier is die mooi kis, kamerverdeler en ander dinge wat uitgestal is. 
‘n Spierwit hekellap uit toeka se dae gee ons uitstalling sommer ‘n hupstootjie!

 Pragtige porselein en doilies met kraletjies. 

Ons kwilt waaraan baie van ons taklede langer as ‘n jaar gewerk het, het ons spesiaal gaan leen om ook weer uit te stal. 

 
Toe het ons begin aflaai: ‘n trousseuakis, ‘n mat, ‘n kwilt, ‘n een-en-sestigjarige pop, (Marietjie, my pop wat my Pa my present gegee het toe en so vier, vyf was) gehekelde borslappies wat aan my tweeling behoort het, bloesies en porselein en doilies....wat nog? Dit moes alles deel van ons uitstalling wees met die tema: “Die vreugde van vrouwees”. Ons het dit so geniet!
Op ‘n stadium klim ons altwee bo-op die staaltafels om die kwilt teen die muur gehang te kry. Benoude oomblikke, sê ek vir jou! Ons is nie meer veertien nie. Ten spyte van die koel weer, was ek papnat gesweet en beangs en het my Ma uit my jeugjare hoor sê:
 “Sussa, moet jy bo-op alles klim my kind, is jy ‘n ribbok?”

Gelukkig was daar genoeg hande wat kon help. Luitha het die kunstenaar van die jaar, Laurika Rauch, se uitstalling gedoen en ons het mekaar oral gehelp en mooi gemaak. Ek dink die kis en kamerverdeler het baie mooi gelyk, wat dink julle? Mooi hout meubels is darem maar net ‘n lieflikheid op aarde!
Links voor is die mooi en outydse porseleinkoppies en doilies. Agter op die tafel waar my Marietjiepop sit, het ons ‘n mooi gehekelde tafeldoek gegooi. Handsakke, skoene, handskoene en krale was ook deel van ons uitstalling. Een van my skilderye moes die prentjie voltooi. Alles dinge wat ‘n vrou sou kon vreugde gee!  
Die blou blompotjie was Luitha s’n, ‘n kosbare en waardevolle kleinood. 

 

Ons was tevrede toe ons werk klaar was. Donderdag sou die konferensie plaasvind. Dié dag waarop net  vier van my modem se liggies douvoordag gebrand het. Ek het vergeet daarvan en gehoop dit sal alles weer reg wees teen die tyd dat ek tuis kom. Oor die nuus het ons gehoor van Escom se probleme en dat beurtkrag weer moontlik ons voorland gaan word. 
 
 
 In die kerk waar ons bymekaargekom het, was ons skaars aan die gang toe die krag afgaan. Dit was skemerdonker. Die streekvoorsitter, Lily Coetzee, het haar nie laat onderkry nie en ‘n mikrofoon wat met batterye werk, gebruik. Die klank daarvan was uitstekend! 

 Ons het die konferensie baie geniet....ten spyte van ‘n baie lang kragonderbreking. Die gaskunstenaars het geduldig bly sit en gewag dat die krag moet aankom. Toe Johan Coertzen teen half een besluit hy gaan nou maar a-capella sing, spring die ligte aan net toe hy die woorde: “Dan moet ek JUIG!...my Redder en my God” sing. Hoe paslik. Miskien moes hy al nege uur begin sing het! 
 


 Daar is baie trofeë uitgedeel en baie pryse gewen. Ek het weer onder die besef gekom van hoe knap en deugsaam ons vrouens is. Vaardig met naald en gare, wol en blomme. Talentvol. Wat almal moet weet, is dat die VLU nie net ‘n klomp tannies is wat naaldwerk doen en koekies bak nie. Daar is baie ander dinge wat ook gedoen word. Foto’s neem en prosa skryf is twee van dié dinge wat my baie naby aan die hart lê. 

 Luitha se rangskikking! (Gevorderd.)  Daar was ook beginner rangskikkings en die tema was: Groen, groen, groen! Is dit nie pragtig nie?





Wie sal 'n deugsame vrou vind? Haar waarde is ver bo korale!








 Vir dié wat nie weet nie, hierdie koek word 'n simnelkoek genoem. 

Ons skakelbeampte, Petra Maritz,  se album was ‘n oogfees! As ek ‘n beoordelaar was, sou ek haar loshande ‘n eerste plek, ‘n medalje en ‘n vakansie in Mauritius gee. Ure se werk het tussen die kleurvolle bladsye gelê. Al Van Riebeeck se bedrywighede is hierin opgeteken en sal bewaar bly vir ons nageslag. 






 Daar was genoeg om te bewonder en waardeer. Maryna Olivier het ‘n eerste prys losgeslaan met haar laphoed. Emma en Jolanda se bloese het ereplekke gekry, Yolande het eerste prys met haar foto van "Nuwe lewe" gewen, baie ander het ook trofeë en pryse gekry. 

 
  





 Die skrywers van die jaar: Herman Charles Bosman en Deborah Steinmair, se werk en foto's is ook baie mooi uitgestal.



 Die kleurskema was cherise en pienk en die tafels mooi gedek. 




                                   Hier sit Maryna, Luitha en Jolanda al heerlik en kuier!

‘n Collage van gebeurtenisse:
 

Monday 3 March 2014

Foto's van my voëltjievriende

As mens lief is vir iets, moet jy dit doen. Moenie uitstel nie. Doen dit net! Deel dan dìt wat jy geniet  met die hele wye wêreld. Ons leef nie meer in die tyd van handsentrales of kapstokke wat in die gang hang nie. Ons leef nie meer in die tyd van briewe skryf en stadige pos nie. Ons leef nie meer in die tyd van bokskameras en foto's wat ten duurste ontwikkel en twee weke voor gewag moet word nie.

Kom ons geniet die internet en alles wat dit bied, digitale kameras, selfoonfoto's, e-posse....kom ons maak gebruik van al hierdie dinge wat net een muisklik ver van ons af is.


Ek is totaal verlief op foto's neem. Van lankal af. Ek weet ek gaan nooit moeg word daarvoor nie, dis beter as melkkos op 'n koue wintersaand, dis lekkerder as stap-langs-die see, dis heerliker as huistoe kom nà 'n lang vakansie. Foto's neem is wonderlik. Geniet saam met my die foto's van geveerdes wat ek in ons tuin en op verskillende plekke in ons lieflike land geneem het.

'n Tiptol. Klein met 'n donker koppie en kuifie, geel onderstertdekvere. Word ook soms "bottergat" genoem.


'n Swartkeelgeelvink. Baie klein, lief om naby die water nes te maak.

My gunstelingduif, 'n rooiborsduif. Klein, kaneelkleur aan die bokant, aan die onderkant gryserig pienk met diep rooibruin op die bors. Sagte, borrelende koer-geluide.

Vreedsaam. 'n Tortelduif. Geluid: "Koe-koerdoek!"

'n Seldsame en taamlik skaars kuiergas in ons tuin: rooikophoutkapper. Helder karmosyn, met 'n breë swart kraag rondom, rug is vaalgrys, skagvere het geel rande, pensie is vaalgeelblekerig. "Toeoeoe, kolletoeoeoe, kolletoeoeoe!" roep hy.


Geelvink op die perskeboomtak. Wydverspreid van die hoëveld tot ver in Namibië sal jy hom aantref.

Kransduif kom vat 'n slukkie...
Meduimgrootte, 'n baie algemene standvoël, wydverspreid. 

So sierlik swem die swaan. Swane is voëls van die familie Anatidae, wat ook die ganse en eende insluit. Hulle is die grootste van al die watervoëls. (Wikipedia)

Swael. Hou van boomveld, klipperige heuwels en berg grasveld. 

Skoorsteenveër. Groot, oorwegend wit, pluime op die rug, kaal nek en lang, krom snawel. 


'n Miksterbyvanger.  Klein, blinkswart gevurkte stert, redelik lank. Roep: harde gepiep en getweng.