Friday 28 December 2012

Oujaargedagtes en dinge.


Dis drie dae voor die jaar 2012 verby is. Verby vir altyd.  Dis drie dae na ‘n mooi Kersdag in my lewe. Geseënde saamweestye. My seun wat so opreg aan die etenstafel in Engels bid: “Make us fond of You.” Een sin, diep woorde. Die resep vir ‘n vol en oorvloedige lewe!
 “Fond”…hoekom het ek nog nooit besef dat dit een van die heelmóóiste woorde in Engels is nie? Die woordeboek verduidelik:  Having a strong liking, inclination, or affection en daar word ook gepraat van:  Affectionate; tender: a fond embrace.
Daarom wil ek soos Paulus in die boek Thesalonicense dit uitjubel en sê: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.

Vanoggend was ek weer so dankiebly! Ek kry ‘n verrassing in my posbus. ‘n Brief van my Pa-se-neef Kosie en in die pakkie ‘n koper sleutelhouer wat hy eiehandig gemaak het. Ek kon nie wag tot by die huis om sy slakkeposbrief te lees nie. Dìt op sigself is iets besonders. Wie stuur in hierdie moderne tyd van e-posse en sms’e en bbm’s nog ‘n gewone brief? Heerlik, heerlik! Ek lees dit sommer so in die terugstap huistoe, sien in my gedagtes hoe hy die koper kersierooi met sy gasvlam maak, sien hoe hy staan en werk met die kapmes en ysterpunt om die verlangde effek te kry. In sy brief vertel hy my hoe hy te werk gegaan het. Ek hoor hom praat.

Ek lees met ‘n glimlag sy gedig:

Kopermasker

kersierooi in die vlam se gloed

hamerslae sekuur en goed

twee oë vir kyk

‘n neus vir ruik

‘n mond vir eet en drink

ryk versier

glad geskuur

gepoleer tot alles blink….
 
 

En dis myne! Ek kyk lank daarna. Agterop het hy my naam uitgekrap. En die
jaar: 2012. Kosbaar. Klein en tog groot. Ek voel skatryk oor my onverwagte
Krismisboks. 
In die akkerboom koer die dorpsduiwe. Die grassnyer dreun uit die bure se erf. Môre kom hulle terug van die see af. Dan kan hul goue Labrador weer sy spore in hulle erf trap. Hy het vir twee weke by ons loseer. Die mooiste hond met die sagste oë…het my so baie aan ons eie ou Lassa laat dink wat al lankal in die hondehemel woon. Hagar, ons swart (en ouer) Labrador, was baie verdraagsaam en geduldig teenoor die lewenslustige, stoute en goue Zulu.  Sy streke kan seker maar toegeskryf word aan sy jeug en verlange na sy mense. In ons erf het skielik gate verskyn, ‘n hele roosboom is opgekou en Hagar se kombers verflenter, maar nouja…..”fond” is en bly een van die heelmóóiste woorde.

Saturday 15 December 2012

Dis oral om ons...

 
Ek is lief vir my kamera. En ek is lief vir my tuin. Op hierdie rustige Saterdag was dit sommer net salig om met Jan Tuisbly se karretjie rond te ry en van alles en nog wat foto's te neem. Die natuur is altyd vol inspirasie! Skoonheid is oral om ons. Ons moet maar net kyk.

 
 
 
"Abstrakte skilderye" lê ons hele erf vol....nou het ek genoeg idees om iets te skilder...en ek hoop jy ook!  
 
Vier ure later:
 
 
Akriel op 'n x-straal, gedoen met die paletmes en verfkwas.
So heerlik!
 
 

Wednesday 28 November 2012

'n Handvol verse

Tuis
 
Wit magrietjieblare
spel dit een-een uit:
die vreugdevolle jare
in ons ou dorpie
Bronkhorstspruit
ek pluk hul een vir een
(oorlaai met God se seën
en Sy genade dag na dag)
 
die voëls in die tuin
 en akkedissies, blink en bruin
wat oor die klippe glip,
‘n lyster en sy maat
roep rooidag wakkerpraat,
geelperskes hang donswang aan die boom
 in somermaande,  lou en loom
en in die voortuin, onder die karee
hoor ek hoe hadida 
triomfantelik sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
 
 
Hier wil ek bly 
Die wete maak my rustig
dit gee vrede
en vreugde
en bowe-al
dankbaarheid –
soos die akkerboom se wortels
so diep, so diep
 vas en seker
lê myne ook
ingebed
toegekombers
veilig
 
tot eendag…
Elizabeth Kendall ©
 
‘n Paar woorde
 Sondagvrede lê die hele tuin vol
vou sag oop in grysblou duiwevlerke,
blink in die nat
 van gisteraand se reën op nuwe roosblare,
waar wit en swart spoelklippe
die paadjie hek toe uitspel…
dit  word ‘n trooshand
op my skouer
‘n lied
en  ‘n  dankiegebed
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Saturday 24 November 2012

Nog 'n dag om oor bly te wees!


Dit reën.  Vroegoggend het ek al buite vol verwondering by die gesiggies gestaan en kyk hoe mooi die druppels op die blare lyk, die koel lug ingeasem en dankie gesê vir nog ‘n lieflike dag. Die tuin is 'n lushof. Daar is elke dag iets nuuts om te geniet en waardeer. Ek is dankbaar dat ek kan sien. Dat ek kan "verdrink" in uitbundige kleure oral om my! Kom stap saam en geniet dit saam met my....
 
 
 
Gister het hierdie ou hadida vir 'n lang ruk so op die draadstoel onder die karee bly sit. Ek wonder waaroor hy so sit en peins het.
 
 
Die porseleinkoppie is nie meer 'n verskrikking nie, al meer en meer saadvretende geveerdes kom knibbel heerlik aan dié gratis bederf!
 
 
 

 
Die natuur is en bly 'n inspirasie dag na dag...ons moet net tyd maak om dit te waardeer en raak te sien!
 
 
En dankbaar te wees.

 
 

Monday 19 November 2012

Tyd.


 

Dis warm. En stil. Ek lê op die dubbelbed in die rondawel en kyk na die houtbalke, voel die koelte van die grasdak. My gedagtes vat sommer pad.
 
Ou Swarthond lê in die sand langs die rondawel. Hy het vir homself ‘n holte daar gegrawe , lekker knus en minder warm as op sy kombers. Hy pas my op. Werk ek voor in die kamer waar die rekenaar is, rig hy hom in langs die groen klimopblare wat die hele voorste muur van ons ou huis toerank. Hy lek sy pote skoon, lê met sy kop op die sement. Tevrede.
 
Wat hou die toekoms in? Ons weet nie. Om vandag te geniet is die belangrikste. Om gister se herinneringe te koester, is ‘n toedraaigeskenk uit God se Hand. En op hierdie hoekerf waar die akkerboom voor in die straat op aandag staan en honderde herinneringe in sy dik stam opgaar, hier waar die moerbeie swart en soet in trosse hang wanneer Oktobermaand aan die voordeur klop, hier waar die ana- en kareebome hul sagte skadu’s oor ons skouers gooi……in hierdie toegerankte huis lê hope herinneringe.  
 
Hier was ek ‘n kind. Hier was ek  ‘n jongmeisie. Hier het ek ‘n vrou geword. My ouers se spore lê hier, my oorlede broer, my sussie. Tussen hierdie mure het ek al emmers vol trane gestort, gelag , gesels, gehoop, gedroom, gebid. Gelééf in oortreffende trap ja...
Ek was die middelkind. Saam met my Ouboet albaster en giffie gespeel en Cor Dirks se Uile boeke gelees of die Skatkis Deel 1 verslind. Hy kon só lag as ek bang geword het wanneer hy “Die Mensvreter” daaruit voorlees met die nodige stembuigings en nuanses. Saam met Kleinsus pop gespeel, sywurms versorg, Saartjie Baumann en die Maasdorpreeks gelees, Stories van Rivierplaas.  Saam met maats springmielies geëet bo-op die pompkamer se dak, tou gespring, vye gepluk, geskiedenis lê en leer op die grasperk. Soggens wanneer Fanus Rautenbach se Penniefluitjie Kwêla speel op my fiets geklim en skooltoe gery…….waar lê daardie jare nou?
(So om en by een-en-twintig jaar oud....)  

Dié huis het al dikwels metamorfoses ondergaan. Na my egskeiding meer as twee dekades gelede,  laat verf ek die dak pikswart, die mure spierwit. Heelwat later kom daar genadiglik weer kleur in my lewe en verander die huis se voorkoms elke paar jaar.  Binne verander ons ook baie: haal die matte uit, skuur die plankvloere glad en blink. Ons restoureer ou meubels, hang helderkleurige prente oral teen die mure,  foto’s van kinders en kleinkinders. Ons huis lewe. Die bome word al groter en meer skaduryk, daglelies en rose blom en bloei, die litroos trek ‘n bloedrooi somersrok aan…. geheel die tuin word ‘n kuierplek, ‘n rustige hawe, ‘n groen stilhouplek en lafenis vir elke dag. Elke jaar kook ek appelkooskonfyt, maak perskeblatjang, deel vrugte uit aan vriende.


Die voëls kom kuier by die fontein wat Chris en die kinders een jaar vir my gegee het op my verjaarsdag. ‘n Koel stroom water spoel voortdurend uit ‘n groot pot tot binne-in ‘n klipdammetjie. Heerlik is dit om daar te sit en droom, die vrede in te drink, te luister na die duiwe se gekoer-koer of die mossies se tjierie-tjierie tjirpgeluide. En soms, as jy gelukkig is, die kakelaars bo in die boomtoppe te hoor roep.

 
Partymaal wens ek Pa of Ma kon net gou kom inloer en kyk hoe lyk dit nou. Sou Ma tog nie die tuin geniet het nie! En ek hoor al Pa se stem: “Sussa, julle het dit so mooi gemaak. My ou doggie is agtermekaar. “ As hy vir my só gesê het in my jonkweesjare toe Die Lewe nog so vreesaanjaend  gelyk het, het ek sommer weer sakke vol moed gehad vir wat ookal voorlê. ‘n Mens vergeet nooit jou ouers nie. Nooit.

 

My kinders is nou almal grootmense. Ek het hulle een vir een in hierdie huis grootgebid en van hier af uitgestuur na die wye wêreld om hul eie paadjies te loop. Hoe baie maal het ons nie weer heerlike saamkuiers belewe onder die moerbeiboom langs die braaivleisplek of gesellig aan die eetkamertafel nie. Op sulke tye sorg Chris vir heerlike potjiekos of skaapribbetjie of ander wonderdisse wat hy kan optower. Wat ‘n voorreg is dit nie vir my om ‘n man te hê wat lief is vir kosmaak nie!


 Toe ons nuwe bure gister intrek, maak hy vir hulle spaghetti bolognaise en ek maak ‘n bak gesonde slaai. Ons doen dit uit pure blydskap, want die huurhuis het leeg gestaan vir ‘n maand. Dis so lekker om ons soort mense daar te kan hê, ganse van dieselfde dam. ‘n Seëning van Bo.


Ons droom om in die Bosveld te gaan aftree is nog lank nie begrawe nie.Ons huis is steeds in die mark.  Tog besef ons dat alles op die regte tyd gebeur, dat jou lewe nie in eie hande is nie, dat die Here jou koers en pad bepaal. Ek het gister heerlik binnepret gehad na kerk toe ou Tannie Ann my bemoedig met die woorde: “Los alles vir die Here. As jy Hom iets vra, dan gee Hy dit vir jou. Hy hoor, Hy is nie doof nie!”  Daarom is dit lekker om nog tuin te maak, VLU beplannings te doen vir volgende jaar, gesellighede en funksies by te woon in die dorp of by die kerk en elke dag se menswees te geniet.


Wie weet, volgende jaar hierdie tyd bewandel ons dalk grasgroen  Bosveldpaadjies, neem foto’s van rooikophoutkappers in mopaniebome, sit saans by ‘n hardekoolvuurtjie en sien soggens die son goudgeel en vlammend agter die bome uitloer om sag en warm op ons te skyn. Sonskyn in genadestrale. Maak nie saak waar jy jou op aarde bevind nie. Dis altyd daar.

 

 

 

 

Thursday 1 November 2012

Net één dag in die Bosveld

Een dag in die natuur, één heerlike dag waarin 'n mens jou kan verlustig in die lieflikhede om jou: die kameeldoringbome, die kierieklappers, die kanniedood....of met oorgawe kan luister na Piet-my-vrou se amper-eentonige lied vroegoggend as die son tussen die bosveldbome deur beur.

 
'n Dankiebly kom lê sag in jou hartkamers....nie net oor jy kan sien en alles om jou geniet nie, maar ook omdat jy 'n klein bietjie begin verstaan dat 'n mens se geluk grootliks afhang van hoe jy na die dinge om jou kyk.

 
Vroegoggend is vir my die heerlikste tyd van die dag....dan lê die wêreld onder 'n sag-kombers en stilte praat fluisterstem oor damme water en tussen groen bome deur.
 
 
Sulke tye is kosbaar. Sulke tye is noodsaaklik. Sulke tye is geskenke uit God se hand.
 
 
"Moenie julle kwel oor julle lewe ... Kyk na die voëls van die hemel ... Let op die lelies van die veld ..." (Matt 6:25-34).
 
 
Na die milde reën van die afgelope weke is die veld 'n aanskoulike prentjie.
Ligrooi blommetjies van die akasiabome is oral te siene.
 
 
Perspienk rank die bougainvilleas oor heinings en tussen boomtakke deur.
 
 
'n Soetdoring spieel homself in 'n plas water...
 
 
Alles is vir my mooi... ook die spierwit, skerp dorings van dieselfde soetdoringboom...
 
 
 
of die droë peule en sade wat bokant my kop aan die takke wieg en waai...
 
 
Ek hoor my oorlede Pa se stem in die Bosveldvrede om my. Ek sien die saam blywees in my man se oë.
 
 





My "Dankie!" klink klein en onbelangrik, maar ek wéét Hy hoor dit.
 

 
 
 
 
 
 
 
 
 

Friday 12 October 2012

Reënverse en vreugdes

 

 
Vars
 
Daar's druppels op die drumpel
en duiwe op die dak
'n mossie tjirp-tjirp vir sy maat
in die Sondagstilte van ons straat
gesiggies lag ligblou in die tuin
tussen blare groen en geel en bruin...
'n nuwe dag, so vars en skoon
laat dankies in my hart kom woon
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
So betyds
 
Slierte reën, ja strome van seën
het op die aarde neergeval
en elke dorre kraak
en droë sloot
verander in 'n
modderdam, 'n poel,
'n nat-nat klei
wat mens tussen
jou vingers kon vat en brei
en so die grond se geur kon inasem,
die groen hoor groei
en sien hoedat 'n
droë boom weer bloei
en in jou maat se oë weer lees:
die vreugde van 'n vrolik'
najaarsfees
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
 
Nat.
 
Dit reën sopnat waternat sousnat reën
reën dit in die straat
en oor die groen, groen bome
die rose, die magrietjies, die wilde knoffel,
reëndruppels spat en klets en praat
teen die ruite
buite,
oor die dorp, die winkels, huise, karre
mense skarrel vinnig onderdak
‘n ousie met ‘n plastieksak
buk om weg te kom van die nat
wat oral spat
en ek

sit vredig en versies skryf met jubels
in my lyf

Elizabeth Kendall ©
 
Reën
 
‘n Nuwe dag klouter nat en vars
deur oop vensters  
groen, groen en blink
lê die tuin en lekkerkry ...
stroopsoet mossies
kwetter in die karee 
en iewers ver
hoor ek ‘n hadida
sy juigkreet skree
 
Elizabeth Kendall ©
 
 
Eerste lentereën
 
Vanoggend donskombers die wolke bo-oor  my 
nat blare lê die voorstoep vol 
‘n tortel trippel vinnig oor die huis se dak 
om na sy koe-koerdoekmaat te hol 
liggroen blaartjies het oornag 
oral aan die akkerboom verskyn 
ek ruik die goeie grond se klam 
die druppels op ‘n klimop-blaar 
boslelie trek haar rooi rok aan 
en staan en glimlag daar 
onder die koelte van die ou karee 
waar sonbesies later vandag 
hul versies vrolikbly sal skree
 
 Elizabeth Kendall ©
 
 


Ma-wees
Nes  ‘n  welkom  reënbui op droë grond
is suikersoet die goeie nuus
uit ‘n kind se mond,
verkwik haar siel, haar binnemens
gee blyweesklank aan elke wens
want smôrens vroeg, voor hanekraai
het sy hul een vir een geabba,
 by haar God en Here af gaan laai…
Hom gesmeek, gevra, gebid
hul skrede op die regte pad te sit,
hul hand te vat en hul te lei
tot daar waar vrede vatplek kry
en as sy dan die antwoord duidelik hoor
sing al die eng’le saam ‘n jubelkoor
want in haar klein gebed
was slegs een enkel woord heelbo:
dis die woordjie “Glo”
Elizabeth Kendall ©