Sunday 1 September 2013

In die Bosveld is ek tuis

'n Mens moet dieper kyk, beter luister, minder praat, meer waardeer. Ek besef dit maar elke dag weer opnuut. Met ons onlangse besoek aan Dikhololo in Noordwes, het ek 'n hele paar dinge wyser geword. Wat ek nie geweet het nie, is dat die naam Dikhololo 'n Tswana naam is wat "die plek van die klipspringer" beteken. So paslik. Lieflike en groot klippe lê oral rond, soos bruin, uitgeryste beskuite. Ek het nie 'n klipspringer gesien nie, maar wel baie dassies.

 
 
 
Op een van ons eie wildritte, kom ons op 'n FAMILIE KERKHOF af, knus tussen die bome.
Ons wonder tegelykertyd wanneer laas het ons die woord "kerkhof" gehoor. So mooi.
 
 
Daar is net 'n paar grafte, maar wat opvallend is van die grafskrifte, is almal se liefde vir die bosveld en dat hulle vrede hier gevind het.
 
 
 

Hier waar elke dag 'n nuwe belewenis van vreugde is. Naby aan die natuur is ook naby aan God.
 
 
In die hoek van dié eenvoudige kerkhof met sy paar grafte, is 'n nismuur vir mense wat aan verassing glo.
 
 
Ek lees die name daarop en wonder oor die vreemde mense wat hier onder maroelabome en haak-en-steek hul laaste rus kom vind het.
 

Net vier jaar oud geword hier in die bosveld. Mannie. Dis ook die naam wat ek my eie seun genoem het toe hy klein was. Ek doen dit soms nog steeds. Hoe dankbaar is ek skielik dat ek hom nog het.
 
 


Kinders wat hier begrawe is: Kosie, Mannie en "Ekke." Wat sou die rede wees vir so 'n vroeë dood? En twee van hulle het dieselfde doopname. Johannes Jacobus.
 
 
'n Entjie van die kerkhof af, staan 'n sementbankie met 'n interessante naamplaat op.

 
"Hier het jy altyd jou rus kom vind"
 
 
Ons ry weg van die klein kerkhof  met baie vrae in ons gedagtes. Die stiltes van die bos maak ons rustig. Die wete dat mense kom en gaan, dat God steeds in beheer is en bly van ons almal se lewens hier op aarde en van alle dinge, dit is 'n lewenslange troos.
 

'n Stukkie geskiedenis: Dikhololo is 'n wildsplaas  van 450 hektaar anderkant Brits. Hier is veertien verspreide kampe, waarvan sommige hul eie swembad het tussen die natuurlike klipareas. In 1983 het Mnr. Willem Bester besluit om Dikhololo, voorheen die bosveldplaas van oud minister Carel de Wet, te ontwikkel en aandele te verkoop in 'n tyddeelskema. Op 10 September 1983 onthul Dr. Marius Barnard (LV), broer van Dr. Chris Barnard, die gedenkplaat by die oorspronklike Hoofkompleks by Piet-my-Vrou. Die oord spog tans met 'n aandeelhouerstotaal van meer as 8300.
 
 
 
 
 
 
Oplaas: 'n Klipspringer vir altyd agter die waterval by die hoofkompleks.

Monday 12 August 2013

Toe word dit 'n stokperdjie

Power Shot SX40 HS. Ja, dis die naam van my geliefde kamera en lewenslange metgesel. Ek onthou so goed die dag toe ek my heel eerste kamera van spaargeld kon koop. Dit was 'n Kodak Brownie en ek het toe gedink ek is 'n koningin om so-iets wonderliks te kon besit.
 
Jare daarna het ek selfs geld verdien met foto's neem hier in my tuisdorp. Kinders, grootmense, honde en katte. Dit was lank voordat digitale kameras die aarde getref het. Ek het die films by die naaste apteek ingegee om te laat ontwikkel, dikwels in sepia vir meer effek. Toe was dit al 'n taamlike duur stokperdjie, maar tog was dit groot lekkerkry.





Die kinders op die foto's hierbo is lank reeds grootmense, maar ek dink hulle onthou ook nog ons lekker en verbeeldingryke spelery soos gister.  

Deesdae is dit 'n heerlike uitdaging om die voëls in ons tuin af te neem. Gelukkig kan 'n mens nou-se-dae 'n duisend foto's neem sonder om vir almal hoef te betaal. Hoe meer ek dit doen, hoe meer leer ek. Ek weet dinge wat ek voorheen gladnie geweet het nie.

Elke dag bring sy eie verrassings. By die agterdeur, aan die perske- en appelkoosboom se kaal stamme, hang ek dennebolle vol grondboontjiebotter en voëlsaad. Ek skil my lemoenskille lekker dik af sodat daar ook iets oor is vir die kraalogies en tiptolle.
 
 
Hoe heerlik!
Ek het hierdie interessante wenk by 'n vriendin geleer:
Remember the birds in winter
 
 
 
Tiptol / bottergatjie
 
 
'n Kakelaar, 'n knapie wat nie sommer stil sal sit en glimlag vir enige kamera nie!
 
 
Songeel sit hy en soek sy saad.
 

My mooiste mossiekind!
 

 
Kransduif klou, want hy weet wat lekker is....

Hoe bevoorreg is ek nie om tyd te kan hê om dié dinge te doen wat my so naby aan die hart lê en hoe lekker is dit nie om dit dan met die wêreld te kan deel nie!

Sunday 28 July 2013

Inspirasie en genot!

Daar is altyd 'n eerste keer. Eerste kere is gewoonlik heerlik. So was dit ook met my eerste ervaring van 'n "winterskool" by Weesgerus, aangebied deur VLU Noord.  Die Bosveld is sommer vanself 'n groot trekpleister, dit weet ons almal. Om dan nog deel van 'n gesellige groep vroue te wees wat talente en glimlagte uitdeel soos soetkoek, is 'n yslike en heerlike voorreg. Ons is net twee lede van VLU Van Riebeecktak, Bronkhorstspruit.
 
Met ons aankoms en tydens registrasie ontvang ons elkeen 'n pragtige, handgemaakte 
sak met allerlei interessanthede daarin.




Wat is nou lekkerder as skryf met 'n regte pen in 'n regte boek?
Nadat ons tasse uitgepak is en ons kon nesskrop in die gerieflike chalets, het ons 'n ligte middagete geniet en heerlik begin kuier met bekendes en onbekendes.


'n Agttal vrolike VLU-lede van Wapadrant, Pretoria. (ons bure.)
 
Bosman Grobler, seun van Anphia Grobler, die vise-president van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, het 'n interessante praatjie aangebied oor voeding vir die kieskeurige eter. Ek het weer eens besef hoe goed dit is vir liggaam en siel om daagliks groente en vrugte in te kry. "Eet 'n reënboog" is 'n goeie uitgangspunt in ons keuse vir 'n kleurryke en gesonde bord kos elke dag.
 
Later die dag word ons in spanne gedeel: Somer, lente, herfs en winter. Ek is in die Winterspan. (miskien bietjie oud, maar nog nie lank nie koud!) Ons is ongeveer twintig in 'n span.

 
Die uitdaging is om 'n hoed te maak uit dit wat voor ons op die tafels lê. Pret was dit voorwaar!!
 
 
 
 
Yolande Steenkamp en ek word toe gekies om aan die modeparade deel te neem met ons handvervaardigde en selfgemaakte skeppings. Uit elke span was daar 'n hele klomp hoed-modelle, maar Yolande s'n was die wenhoed! 'n Mens ken nie die einde van jou kreatiwiteit as daar so vinnig gedink en beplan moet word nie.....dit was pure plesier.
 
 
Die aand geniet ons 'n konsert en ook lieflike voorlesings van Lizette Snyman, baie bekende en beminde digter van die blad  SOLOVLUG  op facebook.
 
 
 Kom geniet haar mooi woorde saam met my:
 
Soutpansberg se winter
 
vandag het ek kom wegkruip
in Louis Trichardt se berg
in deinserige wintermis
en hadidas wat terg
 
ek drink 'n sauvignon blanc
2000-druifjaar franschoek
by 'n ronde tafeltjie vir een
met my wyn en pen en boek
 
ek neem afskeid van die somer
begrawe dit vandag net hier
want dit is weer winter
in makhado se natuur
 
en as ek eendag weer hier kom
met my pen en verseboek
sal ek hier in die berg
vir 'n nuwe vers kom soek
 
Lizette Snyman ©
 
Die aand was wonderskoon. Vol van genadegawes en gedeelde vreugdes. Sielskos. Salig.
 
Toe Woensdag aanbreek, gaan stap ek en Yolande vroegoggend. Die lug is kraakvas.
 
 

 
Groenvaalboom en bruinvaal gras. Nêrens is 'n mens so naby aan jou God as juis hier in die bos nie. Ons asem diep teue vars lug in en luister na die stiltes.
 
Na die opening in die grootsaal, begin ons met uitdagende en opwindende aktiwiteite. Winter se eerste sessie is 'n pretsessie: ons word geblinddoek, moet oor hindernisse klim, lag vreeslik baie, doen selfs kuns met aartappeldruk en geniet die hele storie terdeë!
 

Daarna leer ons hoe om sushie te maak. Dis toe nie eers moeilik nie. Die taai, wit rys klou aan my vingers vas, maar die eindresultaat proe soos 'n droom!
 
 

 
Tussendeur was daar genoeg tyd om die natuur te geniet en waardeer.

 
'n Kuifkopvisvanger

 
Rustig wei die rooibok

 
Die natuur se verfkwas
 
 
Waters waar rus is...


Winter is ook mooi
 
 
'n Gevlekte lyster
 

Hierdie mooi ou dingetjie was amper te vinnig om 'n foto te kon neem...
 
 
Kraanvoëlblom (Strelitzia reginae)
 
Ons volgende sessie was : WEES KREATIEF

Met gom en koeldrankbottelproppe maak ons almal speldekussings en pildosies.

'n Groot konsentrasie vir my, maar tog ook lekker!

 


 


 
Henrietta Schoeman, President van SAVLU, kliphard besig om 'n speldekussing te vervaardig.  
 
Corné en Ina geniet ook die gevroetel en geplak!
 
 
Hierna wys Retha Prinsloo ons hoe maklik 'n mens 'n tafel mooi kan laat lyk. Die heelmooiste (vir my) was natuurlik die tafelversiering van appels en woestynrosies.
 
 
Na dié praatjie was almal sommer begeesterd om weer alles in jou huis met nuwe oë te gaan aanskou en van vooraf te ontdek en te eksperimenteer. Inspirerend was dit beslis.
 
Toe dit aand word, begin ons "opdress", want die tema is Indies. Dis 'n aantrekkery van 'n ander wêreld in chalet B13! Ons help mekaar met die sari's en lengtes lap...al laggende! En ons neem foto's. Kyk net!
 
Rina Potgieter, President van Mpumalanga en Christell Nel, Streeksvoorsitter van Carpe Diem (Witbank), ons twee kamermaats......of is dit dalk Shakira Valencia en Fatima Osman ? !
Onnodig om te sê, ons het dit baie geniet om hierdie twee "vreemde" en baie aangename vrouens te leer ken en het heerlik saam gekuier en idees uitgeruil.
 
 
 Die uwe, rooi kolletjie op die voorkop en al!
 
Yolande, so mooi in groen getooi!
 
 
 
 
 
 
Chalet B13 se inwoners.
 



Kleurvol!! 


Judy Steynberg, President van VLU Noordwes,  Henrietta Schoeman, SAVLU President, Rina Potgieter, President VLU Mpumalanga en Tharina Rossel, President van VLU Noord.
 
Die tafels is keurig gedek, die kos is uit die boonste rakke, die geselskap is heerlik! Ons luister na lieflike panfluitmusiek.  Ons kuier saam tot laat. Gesellig, geseënd.
 
 
 Die laaste dag breek aan...
 
 
 Van vandag af sal ons paadjies weer skei.
 
Ons luister na 'n interessante praatjie oor voëls en die natuur deur Kobus Pienaar, dan na 'n praatjie oor korrekte vormdrag en daarna kom Kansa aan die beurt.
 
Yolande Steenkamp ondersteun Kansa  en ons geniet nog 'n laaste vertoning deur briljante Elana Greyling en Toktokkie.
 


 
Te gou is dit tyd vir die afsluiting en terugkeer huistoe. Die heerlike herinneringe is en bly egter vir altyd deel van ons menswees. Ons voel verryk en entoesiasties, lus vir die lewe en die uitdagings wat op ons pad mag kom. Toe Tharina Rossel, wat alles gereël het, bid, voel ek onverwags 'n nattigheid in my oë. Alle eer aan ons Skepper wat ons harte so bly gemaak het tydens 'n louwarm Bosveldwinter.