Monday 4 March 2013

Herfsjare

Die weke vlieg verby. Dis vroeg-Maart en soggens half ses is dit nog donker. Herfs is op pad. Lekker! Ek hou so baie van herfs se diep en ryk koper kleure. Geel en oranjerooi blare wat rank en krul oor die stokkiesheining by die fontein. Dae waarin niemand te koud of te warm kry nie. Net reg.
 
Ons is ook nou in ons herfsjare. Sneeu in ons hare en vlekkies op ons hande. Maar 'n mens se hart bly so jonk as wat jy hom wil hou.
 
Ek put nog soveel genot uit my skilderwerk. Om landskappe en veral seetonele te skilder, bly maar een van die lekkerste dinge op aarde. Hier is 'n paar voorbeelde van onlangse see-kuns.

 
 
 
 
My hart is vol dankbaarheid omdat ek nou tyd het om dié dinge te doen waarvoor ek lief is.
 
Om verse te skryf is ook 'n plesierige passie. Soms wonder mens wie lees jou woorde, hoe lyk die persoon as hy dit lees, bring dit 'n glimlag na sy mond, maak dit sy dag warmer, mooier, sagter.....wie weet?

 
Boekvlerke

Ons woorde vlieg die wêreld vol
warrelrol oor wye wit
woorde wat miskien ‘n glimlag
 op moeë mensgelaat kom sit

wie weet waar wegholwoorde woon
hoe word genadegawes gul beloon

ons letters luier langsaam rond
en wonderwoorde borrel
uit monde van digters oraloor
wat bundels boekvlerke
in knusse kuberruimtes stoor

 Elizabeth Kendall ©

Kom geniet Verse en vrolikhede as jy ook lief is vir ons taal!


 
 
 

Wednesday 13 February 2013

Kom ons kyk kiekies

So lank as wat ek kan onthou, was 'n kamera en foto's neem een van die heel lekkerste dinge op aarde vir my om te doen. Ek onthou nog so goed ek was omtrent in St. 7 iewers rond toe ek van my spaargeld vir my my eerste eie kamera gekoop het. Dit was 'n Kodak Brownie. Vir my gelykstaande aan 'n wonderwerk! Nietemin, sedertdien het daar heelwat beter modelle gevolg en telkens het ek my verlustig in die genot wat 'n kiekie kan bring.
Vandag neem ons foto's en bêre dit op ons rekenaars. Die digitale kameras maak alles soveel makliker....tog mis ek die gevoel van 'n foto-album vol herinneringe wat ek kan vashou en koester in my hande. Nie dat daar 'n gebrek aan sulke items in my huis is nie....daar is rakke vol albums, jare se leef-ervaringe vasgeplak en gestoor vir die nageslag. En taamlik dikwels blaai ons deur dié albums en geniet alles weer van voor af.
Ons was onlangs in die Bosveld anderkant Nylstroom en kamera in die hand, het ek die skoonheid van hierdie stuk wêreld ingedrink en vasgekiek vir ewig. Kom geniet die mooi van God se Skepping saam met my.....
 

Ou Bloukoppie daar teen die muur
is dit 'n muggie waarna jy so gluur?
 
 
Die growwe stam van 'n doppruim, 'n blinkblaar wag-'n-bietjie, 'n soetdoring of 'n kurkbasklapper......almal ewe uniek, almal ewe mooi.
 

"Kwêêêê!" roep die grys loerie sy kenmerkende Bosveldroep....
 
 
...en bloukopkoggelmander luister
 

Nêrens is die lug so blou, so skoon soos hier in die bosse nie en sou 'n mens opkyk, raak jy bewus van jou eie kleinheid.

 
Tarentaal vertel 'n ou verhaal
van kruiwawiel se tjierietjier -
spikkelveer roep poelpetaan
oor rant en vlei die donkermaan
dan pik-pik hy
en skrop soel somers pienktoon oop
daar waar hy ouman ver
sy paadjie saam-saam loop
Elizabeth Kendall ©
 
 
 

Ons land
Waar soggens vroeg oranje-geel
die son oor gras en bosse streel
waar kierieklapper en karee
hul eenvoud skoon aan almal gee
het ek my hart toe wéér verloor
my liefhê-land, my siel bekoor…

deur leegtes en verbrande gras
oor heuwels teen 'n slakkepas
geluister hoe die wind deur oop vensters praat,
gesien hoe 'n kiewiet wip-wip na sy maat…
en altyddeur geweet:
my land is mooi, my land is goed
my land pomp deur my hart se bloed
Elizabeth Kendall ©

  
Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort...
- Prediker 11:6
 

 
 

Onbegryplik groot 
“Nou kan jy weer bly word, “ sê hy en kyk na my -
na lange jare saam is daar wêrelde van verstaan
ja ek kan weer sing en skaterlag
ribbokrats oor rante klim
goudgeel stukke sonlig sluk

en opkyk na die wolke blou daarbo 
 ’n twyfelaar wat glo
Elizabeth Kendall ©



Dis knoetse en knobbels en krake...
 
en sandpaadjies tussen graspolle....
 
Ruik jy die vars lug, hoor jy die roep van 'n houtkapper, voel jy die stilte om jou vou soos 'n sagkombers?
 

Hier is dit rustig. Hier kan jy net jy wees.
 

 




 Wie het die waters in die holte van Sy hand afgemeet, met die breedte van Sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Jesaja 40.


 
 
 
Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag...
C. Louis Leipoldt.
 
 
 
'n  Bosveldvisvanger teen die hemelblou
 
 
en 'n kakelaar wat kan kekkelpraat van smôrens vroeg tot sawens laat...
 

.....moet van akkedissies nie vergeet
 

of pienkrooi naaldekokers wat mos alles weet !
 


 
Die hoep-hoep met sy vere bruin en swart
het my lank doodstil laat staan,
verwonderd en verbaas het ek gekyk
hoe hy met sy lang snawel
sappige wurms uit die grond uit grou,
hom niks gesteur aan my en jou.
 
 
 
 Teen skemeraand het ons saam met die bottergatjie op die blou stoele langs die swembad gaan sit -
ons het gesels, gelag
en ook miskien gebid...
 
 
 
Ons batterye is weer gelaai, ons harte is lig en die lewe is 'n lied.
 


 
 

 

Sunday 3 February 2013

Dis weer tyd

Ek dink daar is 'n stukkie Bosveld in baie van ons. 'n Plekkie waar jy en jy alleen kan gaan sit en droom....miskien sit en versies uitdink of dalk prentjies teken in die sand. Miskien net luister na die houtkapper se prrrrrrrrrrr iewers waar jy hom nie kan sien nie, iewers bokant jou kop tussen die groen blare. 'n Plekkie om te dink. 'n Plek waar jy weer mens kan wees en oopoog  met God kan praat of net tjoepstil sit en luister.

Soms vou die verlange na so 'n plek jou heeltemal toe. Mense wat Bosveldbloed in hul are het, wil altyd weer teruggaan. Ons wil weer vroeg opstaan en in die veld gaan stap, die gras ruik, na die bome kyk, hul skurwe stamme omhels, in hul skadu's staan en opkyk na die skoon, blou lug daar bo.

As jy nie onmiddellik aan jou sielverlangens kan uiting gee nie, dan wend jy jou maar na die kwas en die verfpotte en jy skilder. Verbeeldingprentjies van Bosveldpaadjies iewers, iewers ver. Dit troos want terwyl jy skilder, word jy heeltemal deel van dit wat voor jou gestalte kry. Jy klim as't ware uit jou dorpshuis uit binne-in jou Bosveld-boendoes. Die geur van verf voed jou hunkerende honger siel. Jou dors word geles. Jou vreemde verlangens krimp kleiner.


En as jy klaar is, staan jy so 'n entjie terug en jy kyk...jy kyk na die kleure voor jou, jy ruik die bos, jy hoor die sonbesies sing.

En dan wéét jy dis weer tyd om 'n tas te pak, dis tyd om te gaan batterye laai. Al is dit net vir 'n paar dae....die bos roep en jy moet mos luister!

Thursday 3 January 2013

Die internet en sy dinge

'n Week of so gelede ontdek ek dat 'n mens 'n video van Picasa af op YouTube kan laai en dit die wye wêreld in kan stuur....ek dink ek het omtrent soos Jamie Uys gevoel toe hy sy eerste fliek gemaak het! My eerste video, kompleet met musiek en al, word toe gemaak deur net aan te hou klik en klik en lees en lees. Vir iemand wat as kind langs die plaashuis se muur sit en karringmelk skud het totdat dit in goudgeel botter verander het, iemand wat verstaan wat die spreekwoord: "'n Oulap se rooi maak mooi" beteken en iemand wat saans na "Die Du Plooys van Soetmelksvlei" oor die radio geluister het, is dit 'n taamlike prestasie! Glimlag. Die tegnologie ontwikkel en verander so vinnig en daar kom elke dag nog iets nuuts by om te leer.

Ek deel graag my kuns-en-musiekvideos met almal wat hier inloer....o ja, ek weet daar is nog soooo baie om te leer, maar dié is nog maar net die begin! (klik op elke skakel as jy wil luister en kyk. )

Paletmeskuns / Paletteknife art

en toe sommer nog een....

Ek is lief vir kuns! / How do I love art!

en nog een:
Skilder met koffie / Painting with coffee

As jy enige raad, hulp en gawe wenke het om met my te deel, gaan ek so bly wees om van jou te hoor. Intussen: geniet dit! En wie weet, dalk word jy lus om 'n kunswerk te bestel, ek skilder graag op aanvraag.

Terwyl ek nou met bemarking besig is, sal dit seker niemand kwaad doen om ook hier te gaan kuier nie:

Paintings I love

RedBubble: Elizabeth Kendall

South African Artists. com

Elizabeth se kuns / Elizabeth's art

Baie dankie vir jul ondersteuning, aanmoediging en veral liefde. Gedeelde vreugde is mos ALTYD dubbele vreugde!









Friday 28 December 2012

Oujaargedagtes en dinge.


Dis drie dae voor die jaar 2012 verby is. Verby vir altyd.  Dis drie dae na ‘n mooi Kersdag in my lewe. Geseënde saamweestye. My seun wat so opreg aan die etenstafel in Engels bid: “Make us fond of You.” Een sin, diep woorde. Die resep vir ‘n vol en oorvloedige lewe!
 “Fond”…hoekom het ek nog nooit besef dat dit een van die heelmóóiste woorde in Engels is nie? Die woordeboek verduidelik:  Having a strong liking, inclination, or affection en daar word ook gepraat van:  Affectionate; tender: a fond embrace.
Daarom wil ek soos Paulus in die boek Thesalonicense dit uitjubel en sê: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.

Vanoggend was ek weer so dankiebly! Ek kry ‘n verrassing in my posbus. ‘n Brief van my Pa-se-neef Kosie en in die pakkie ‘n koper sleutelhouer wat hy eiehandig gemaak het. Ek kon nie wag tot by die huis om sy slakkeposbrief te lees nie. Dìt op sigself is iets besonders. Wie stuur in hierdie moderne tyd van e-posse en sms’e en bbm’s nog ‘n gewone brief? Heerlik, heerlik! Ek lees dit sommer so in die terugstap huistoe, sien in my gedagtes hoe hy die koper kersierooi met sy gasvlam maak, sien hoe hy staan en werk met die kapmes en ysterpunt om die verlangde effek te kry. In sy brief vertel hy my hoe hy te werk gegaan het. Ek hoor hom praat.

Ek lees met ‘n glimlag sy gedig:

Kopermasker

kersierooi in die vlam se gloed

hamerslae sekuur en goed

twee oë vir kyk

‘n neus vir ruik

‘n mond vir eet en drink

ryk versier

glad geskuur

gepoleer tot alles blink….
 
 

En dis myne! Ek kyk lank daarna. Agterop het hy my naam uitgekrap. En die
jaar: 2012. Kosbaar. Klein en tog groot. Ek voel skatryk oor my onverwagte
Krismisboks. 
In die akkerboom koer die dorpsduiwe. Die grassnyer dreun uit die bure se erf. Môre kom hulle terug van die see af. Dan kan hul goue Labrador weer sy spore in hulle erf trap. Hy het vir twee weke by ons loseer. Die mooiste hond met die sagste oë…het my so baie aan ons eie ou Lassa laat dink wat al lankal in die hondehemel woon. Hagar, ons swart (en ouer) Labrador, was baie verdraagsaam en geduldig teenoor die lewenslustige, stoute en goue Zulu.  Sy streke kan seker maar toegeskryf word aan sy jeug en verlange na sy mense. In ons erf het skielik gate verskyn, ‘n hele roosboom is opgekou en Hagar se kombers verflenter, maar nouja…..”fond” is en bly een van die heelmóóiste woorde.

Saturday 15 December 2012

Dis oral om ons...

 
Ek is lief vir my kamera. En ek is lief vir my tuin. Op hierdie rustige Saterdag was dit sommer net salig om met Jan Tuisbly se karretjie rond te ry en van alles en nog wat foto's te neem. Die natuur is altyd vol inspirasie! Skoonheid is oral om ons. Ons moet maar net kyk.

 
 
 
"Abstrakte skilderye" lê ons hele erf vol....nou het ek genoeg idees om iets te skilder...en ek hoop jy ook!  
 
Vier ure later:
 
 
Akriel op 'n x-straal, gedoen met die paletmes en verfkwas.
So heerlik!
 
 

Wednesday 28 November 2012

'n Handvol verse

Tuis
 
Wit magrietjieblare
spel dit een-een uit:
die vreugdevolle jare
in ons ou dorpie
Bronkhorstspruit
ek pluk hul een vir een
(oorlaai met God se seën
en Sy genade dag na dag)
 
die voëls in die tuin
 en akkedissies, blink en bruin
wat oor die klippe glip,
‘n lyster en sy maat
roep rooidag wakkerpraat,
geelperskes hang donswang aan die boom
 in somermaande,  lou en loom
en in die voortuin, onder die karee
hoor ek hoe hadida 
triomfantelik sy juigkreet skree
Elizabeth Kendall ©
 
 
Hier wil ek bly 
Die wete maak my rustig
dit gee vrede
en vreugde
en bowe-al
dankbaarheid –
soos die akkerboom se wortels
so diep, so diep
 vas en seker
lê myne ook
ingebed
toegekombers
veilig
 
tot eendag…
Elizabeth Kendall ©
 
‘n Paar woorde
 Sondagvrede lê die hele tuin vol
vou sag oop in grysblou duiwevlerke,
blink in die nat
 van gisteraand se reën op nuwe roosblare,
waar wit en swart spoelklippe
die paadjie hek toe uitspel…
dit  word ‘n trooshand
op my skouer
‘n lied
en  ‘n  dankiegebed
Elizabeth Kendall ©