Friday 28 September 2012

My omgewing


Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het haar mooiste groen rok aangetrek. Smiddae na half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  

 
Onder die karee lag oranjerooi boslelies oopmond. ‘n Geelvink bou sy nes bo aan een van die dunste takkies. Stukkies gras en blare val grond toe. ‘n Lyster wip oor die grasperk. Sy geel snawel blink in die son.

Oranje botterblomme en persblou gesiggies groei welig in die bedding naby die voëls se waterbak. Ek pluk ‘n takkie roosmaryn af en vryf dit tussen duim en voorvingers. Die geur daarvan klou aan my hande vas.
 
 
n Motor ry verby ons huis. Iemand druk bont advertensieblaaie in die gleuf by die voorhekkie. Die duiwe vlieg fladderend weg. Ons swart hond blaf hard. Iewers lui ‘n telefoon . 

Ek maak die deur oop en stap my werkkamer binne. ‘n Ligte windjie laat die gordyn by die oop venster beweeg. “Twiet twieteriet!” fluit ‘n mossie buite in die tuin.  Dis somer in Bronkhorstspruit.
 

Saturday 22 September 2012

Skilder met koffie

Wie het gesê koffie is net daar om gedrink te word? Op RedBubble het ek eendag gesien iemand gebruik koffie soos verf....en skilder daarmee. Ek was onmiddellik geïnspireerd en het dit ook probeer! Hier is 'n paar van my koffie en potlood- of pensketse. Geniet dit!
 

Kaalvoet in die reën.
 

En sommer nog een: "Dancing in the rain!" Beide is verkoop. Ek is gewillig om kommissies te doen indien iemand sou belang stel....dis elke keer 'n uitdaging om hande of voete te teken, want maklik is dit nie. Ek het die koffie telkens hier net as agtergrond gebruik....en dit het sooooo lekker geruik!
 
 
"Trust."
Koerantpapier as agtergrond gebruik, heerlik gespeel!
Friendship is a single soul dwelling in two bodies. Aristotle
Coffee and newspaper background, Derwent Graphic HB pencil, Parker pen and black ink, white gouche paint on Acrylic Colour Pad 400gsm paper.
 


Wag / Waiting
 
Hierdie tekening het my laat dink aan jare gelede toe ons tieners was, toe liefde soms net bewondering was, toe bewondering nog nie in woorde gesê kon word nie......want ons was te skaam.
 
 
'n Stukkie Afrika....
 


 
 
 

Friday 21 September 2012

Hier lewe ek!

Smiddae so teen half vyf se kant kom klim die saligheid oor my siel. Dan is die dag se take min of meer afgehandel. Dan wil ek buite wees, die vrede van die tuin indrink en my verlustig in die vrolike en vars spore van 'n nuwe seisoen wat oral te siene is.

By die agterdeur op die perskeboom se growwe tak, sit 'n babaduifie. Tjoepstil. Ek staan een armlengte van haar af. Sy sit rustig en steur haar nie aan my nie. Tevrede. Haar vere is sag en donsig.  Dié goue oomblike word minute vol verwondering.

 
Die laat middagson val sag op die kaktus se helderpienk blommetjies. My oë kuier oor die mooi daarvan.
 
 
Dan sien ek dit raak: oor 'n paar dae gaan die litroos 'n fees van blomme wees. Oral is nuwe lewe. Ek hoor God se stem: " Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen."
 
 
Tussen die woestynrosies se goudgeel blomme dartel 'n by lewensbly.
 


Ek vryf met my kaal hande oor die gladde klippe wat ons van Letsitele af gebring het lankal terug. Elke klip in ons tuin vertel sy eie storie. En al dié stories is mooi, lekkerluister-verhale van geseënde en goeie jare wat verby is......

 
 
Aan die kant van die erf in die voortuin kombers die klimop oor die groot, ou karee wat my oorlede Ma nog hier geplant het. Sagte skadu's val oor die agapanthe en boslelies wat aan sy voete groei. In hierdie hoek wag heerlike koeltes op 'n warm somersdag.
 
 

Hier word drome dikwels gebore of versies uitgedink. Hier kry ek inspirasie.  Hier luister ek na die duiwe se voortdurende koe-koerliedere. Dis agtergrondmusiek in my tuisdorp, ja regtig.

 
 
Aan die appelkoosboom se tak hang die glasogies en langstert muisvoëls se lemoenskil opgekrul, spesiaal so afgeskil dat daar nog oorgenoeg lemoen is vir hulle om aan te peusel.
Die oranje, groen en bruin maak 'n mooi prentjie teen die laatmiddag se blou.
 
 
Soos so dikwels vantevore, kom daar groot kalmte en vrede in my hart as ek deur die tuin wandel.

 
Die lugplant het min nodig om te oorleef. Ons kan so baie uit die natuur leer...


 
 
Toe die son in die weste begin sak, wéét ek weer van vooraf: God is in beheer.
 
 
Elizabeth Kendall ©
 


 
 

 
 

Monday 17 September 2012

Vertrou net


 
In die stilste uur van ‘n nanag
worstel en woel gedagtes onvermoeid -
klouter trippeltrap in my hartkamers
en laat die slaap wegkruipertjie speel
tussen gisters en môres……
dan vou ek my hande en sluit my oë
geboë
prewel ek in deurmekaar sinne

en vertel van alles binne
stort dit uit soos water –
en wag
vir die nuwe dag


               Elizabeth Kendall ©
 
 

Friday 7 September 2012

Die wete.


Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n heerlike wete.
 Dis gerusstellend, vertroostend, bemoedigend, verkwikkend.  Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus. Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies. 
Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike gevoel van afwagting. Ná  die milde  reën ontwaak die wêreld:  die tuin begin blom, die vinkneste swaai vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind. Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut.  Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te bly!

Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe met ‘n lied in ons harte.  Selfs al sou ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my. So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op die plaveisel my ook  sê.  Daarom stap ek en jy  moedig deur die donker skaduwees tot by die lig. Ons is nooit alleen nie.  God is in beheer.  Hy is elke dag by ons.
 

Saturday 25 August 2012

Na baie jare.


Ek droom. En ek pak in en ek gee weg. Ek maak minder. Dis tyd. Alles nog net in my gedagtes. En in my gedagtes begin ek ook koebaai sê.  Koebaai aan die kransduiwe, die tortels, die lagduifies. Ja, al die voëls wat daagliks hier by Krugerstraat se hoekerf kom inloer het, hul dors kom les het en dalk ook iets lekkers gekry het om te eet.

Ek sê koebaai vir my koue huis, my vier mure teen die suidewind.  Geërf van my liewe Pa. Houtvloere wat praat, stories vertel van baie kuiers, selfs skinder as tienerkinders laatnag sou  insluip. Toe kon ek met ‘n geruste hart aan die slaap raak, wetende almal is nou veilig tuis.

Sewe, amper agt  jaar lank het ek alleen hier geswoeg en gesweet en my vier kinders grootgemaak.  Die herinneringe wat hulle van hul Ma-se-huis het,  is vir altyd mooi.  Ek glo so.  Ek het my bes gedoen. Die Here het my elke dag krag gegee.  As ek moedeloos en bekommerd was, het Hy iemand gestuur om my te bemoedig. As ek alleen gevoel het, het ek Sy stem in die ritsel van die akkerboom se blare gehoor of  Sy sorg gesien in my tuin. Pienk bloeisels aan die perskeboom na ‘n koue winter, appelkose wat in geelryp trosse hang, net reg vir pluk en konfyt kook.

Hierdie huis was my vesting. Hier het ek weer vrede kom kry,  dit vasgehou en gekoester. Ek was dankbaar.  Die tuin het my besig gehou. Ek ken elke klip. Die paadjies wat ons met plaveistene gepak het, die fontein wat my verjaarsdagpresent was een jaar toe ek nog skoolgehou het, die struike, die plante wat elke winter doodryp. Kom die lente, dan ontwaak alles weer van vooraf.  Nes my eie lewe.

Ek ken die wonder van verskillende seisoene hier in Bronkhorstspruit.  Koue, koue winters en houtstompe in die antrasietstofie.  Lentes wat oopbars en bloei en bot. Herfsblare wat die hele erf vol lê.  Ou Jacob wat elke jaar aangesê word om die blare tog maar doodstil te laat lê, want dis “my blommetjies se kombers.”  Warm somers en bekers vol heerlike boorgatwater. Nêrens proe water mos soos by jou eie plek nie.

Toe Chris my man word, maak ons alles wat stukkend is, heel. My hart ook. En syne. Ons laat lê plaveisel buite.  Ons haal die matte binne uit en skuur die houtvloere blink.  Die ou vensters word vervang met houtraamvensters. Ons verf en maak mooi.  Ons woon storieboek-gelukkig in ons ou huis. Vir vyftien jaar nou al.

Maar nou droom ons. Want ons mag. Ons droom van Bosveldsomers, van kanniedood en maroela, van hardekool en bougainvillas wat persblou blom. Ons droom van ‘n splinternuwe plek, ‘n plek waar ons nuwe voetspore gaan trap. Daar waar houtkappers  en mikstertbyvangers en troupante die bome bewoon. Waar louwarm dae soos heuning vloei. Waar vars lug verniet is. En ons weet en glo ons drome gaan waar word.

 

Thursday 23 August 2012

In woord en beeld

 
Dis my liefde vir ons taal wat maak dat daar soms verse "gebore" word. Dikwels ook lekker om dit te kombineer met iets wat ek geteken, geskilder of gekiek het. Ek plak 'n paar van my gunstelinge hier vas, hoop julle geniet dit!
 
 
 
 
Neem my saam op die sandpad,
daar waar tyd aan 'n doringboom hang
hou my hand styf vas in joune
en sê dat jy ook so bietjie verlang.
 
 
 
 

Monday 13 August 2012

Glo net


Geloof kan berge verskuif
Geloof kan jou oplig en jou abba
Geloof is ‘n vashouplek -
 ‘n stukrag en ‘n anker
Geloof reënboog ‘n vaal dag
Geloof is krag
Geloof is  moed



Geloof het net ses letters

Geloof is goed
Geloof kom lê ‘n hand op joune
 Geloof fluister vuurwerke in jou binneste
Geloof  groei
 en  prewelbid

wanneer kleingeloof jou hele mens vol sit


Elizabeth Kendall ©

Sunday 12 August 2012

Sondagstilte.


Ek dwaal op die digblaaie rond. Ek lees die seer van mense raak. En ook die bly. Die lewenslus, die vreugdes, die warm menswees. En in die kombuis maak hy vir ons kerrie. Die aartappels lê warmsag en prut. Die geur daarvan maak ons huis ‘n lekker plek. Oor die radio speel die heelmooiste musiek. Die tortels koer vredeverse.
En die koue winterwind het gaan lê. 
  

Monday 30 July 2012

Alles is genade

Ek voel geseënd. En dankbaar. Aan die begin van 2012 het ek vir die Here gevra dat ek asb. elke maand net een skildery sal verkoop. Net een. Dit sou genoeg wees om my hart te laat bokspring van blydskap.
Daar is min dinge so bevredigend en so lekker as om te kan weet dat daar iemand is wat bereid is om jou werk te koop. Die wêreld is vol mense. Elkeen het sy eie smake en voorkeure. Die wêreld is vol kunswerke.
Duisende kunstenaars verkoop werk op straathoeke, by vlooimarkte, in galerye of sommer so uit die vuis. Vir my is die gerief en die gemak van die internet ‘n wonderwerk waaroor ek my daagliks verbly. My kuns is op drie verskillende webblaaie:  RedBubblePaintings I love en South African Artists.com  En o ja, ek het ‘n facebookblad ook: Elizabeth se kuns/ Elizabeth's art. Ek hou alvier hierdie plekke aan die gang. Kort-kort gooi ek kole of dun  houtjies op die vuur, die vlammetjie moet aanhou brand. Iemand mag kom “hande warm maak” op enige een van dié webwerwe. Iemand mag kom loer en met ‘n warm binneste weer wegstap, want God het my ‘n talent gegee en ek wìl dit graag deel.
In my (soms) kleingeloof, het ek eers anderdag besef dat my stil gebed nog elke maand beantwoord was. Sedert Januarie het ek elke maand een of meer skilderye verkoop. Dié wete laat my klein en vol verwondering. Die Here sorg vir ons. Ons moet Hom net vra en vertrou. Ons moet dankbaar lewe en ons talente gebruik en oefen. Ons moet nooit moed opgee nie. Hy is getrou. Hy gee meer as waarvoor ons vra.
In Januarie verkoop ek ‘n groot skildery aan Kara van Toronto. Ek noem dit: “This is Life!” Dis met ‘n paletmes gedoen. ‘n Massiewe golf blou see. Sy ontvang dit met blydskap en hang dit bokant haar bed…..ver, ver oor die blou waters wat ons skei. My hart juig!

In Febr. laat weet South African Artists.com se Marina Eilers my dat twee abstrakte skilderye ‘n baas soek. Ek maak die pakkie op met ‘n lied in my hart.


Voordat Februarie verby is, bestel Liesl Greyling op fb ‘n kleinerige skildery wat ek op x-straal gedoen het. “After Alfred” kry ‘n baas en ons voel altwee in ons skik. Sy sal dit self laat raam.


Ek skilder elke week iets. Sommer net omdat dit my soveel genot verskaf, omdat ek kan en omdat ek wil. Ek neem foto’s van my kuns en laai dit op die kuns-webwerwe. Ek geniet die kommentaar van vriende, kennisse en mede-kunstenaars. Ek geniet hulle kuns ook. Ons inspireer mekaar, moedig mekaar aan met opregte lofuitinge. Dis so bevredigend.Dis so sielsverrykend heerlik!
In Maartmaand verkoop ek weer twee skilderye: “A river in Africa” Hoe baie het ek dit nie geniet om dié natuurtoneel te skilder nie! Willem van die boekwinkel op die dorp koop dit en ek en hy gaan soek ‘n gepaste raam uit by Sarie se raamplek. Willem hang my skildery in sy kantoor op, almal kan dit sien. Ek voel so bly.

Ronell Marais wat saam met my gedigte skryf en woorde liefhet, kom kuier een Sondag al die pad van Alberton af. Sy koop “Five trees”. Ek gee haar ‘n ongeraamde prentjie present omdat sy agter my aangery het  en ons word meer as net kennisse. Skilderye bind mense aan mekaar vas. Dit vertel stories. Dis lewe.

In Meimaand skilder ek weer ‘n rivier en bome terwyl ek droom van heerlike somersdae in die natuur. Sanne-Marie koop dit. Die verf is nog skaars droog toe sy sê sy wil dit hê. My beker loop oor. Ek laat dit mooi raam en Sanne kry dit by my Maureenkind se huis in Pretoria. Ek plak my prentjies vas op facebook. Ek het mos tyd. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.
Intussen kom kuier Linda hier. Sy bestel ses windpompe. Ek doen dit in waterverf. Nie baie groot nie, maar tog ‘n heerlike uitdaging. Sy maak fotostate daarvan en plak dit op blikke vas wat sy versier: “Pa se bêreblik” noem sy dit! By Willem Prinsloo se Mampoerfees verkoop sy haar blikke. Die oorspronklike windpompe gaan sy laat raam en in haar huis ophang, al ses van hulle. Dit was Meimaand se ses seëninge.








In Junie toe die koue al goed begin knyp,  sien een van Maureen se fb-vriende  die blou rivier en groen bome raak op haar blad, want ek en my kinders deel mekaar se blydskap en hartseer.  Die prentjie rààk sy hartsnaar, want daar waar hy bly in Michigan was groot veldbrande en sy geliefde landskap is afgebrand. Sy herinneringe was besig om te vervaag. Toe hy die blou rivier sien, spring daar ‘n duidelike beeld van beter tye voor sy oë op en hy bestel ‘n soortgelyke skildery by my. Ek verf dié keer op ‘n lekker groot geblokte doek. Heerlik! Ek voel dolgelukkig dat my handewerk in ‘n ver land oorsee gaan hang en iemand se hart gaan bly maak. Die blou rivier kronkel tussen die berge in, ‘n lafenis vir die siel.

Steeds Junie en weer bestel Sanne-Marie ‘n skildery: sy wil twee hê wat langs mekaar kan hang. Twee wat bymekaar pas en hande kan vat. Ek sê dankie en doen my bes. Dis die einde van Junie en Bronkhorstspruit is koud, maar my hart is warm en vol vreugde want ek geniet wat ek doen!

Ek koop meer verf by Jimnettes in Pretoria, ek speel met kleure op die x-straalplate. Die paletmes ken sy pad. Ek verloor myself tussen die verfpotte!

 ‘n E-pos van ‘n onbekende man kom lê in my posbus: sy naam is Omar en hy woon in Engeland. “Is die skildery: “Getting Lost” wat op PIL was, nog beskikbaar? “ vra hy in Engels. “Dit is nog beskikbaar” sê ek, ook in Engels. Ek laat dit vir hom raam, netjies en met montering en glas voor. Sarie doen uitstekende werk. My Omar-ondersteuner klim op die vliegtuig, klim in ‘n motor en ry van Johannesburg tot in Bronkies om die skildery persoonlik te kom haal. Hy bring een van sy kollegas saam. Hulle bekyk al my werk wat hier in die voorste kamer uitgestal is. Ek bewe van opgewondenheid, neem ‘n foto van hom met sy skildery in sy hande. Hulle wil nie koffie of tee drink nie. Ek gee vir hulle pasteitjies vir die pad. Hy belowe hy gaan nog iets bestel, eendag vorentoe. Ek is so bly soos ‘n kind wat ‘n blink geldjie in sy skoen ontdek na ‘n Tandemuisbesoek. Nee, ek is nog blyer as dit, want Omar se kollega koop ‘n skildery wat al lank hier by my staan. Is dit maar net toeval dat dié

skildery se naam: “Heaven is a beautiful place” is…..ek glo nie.





Juliemaand breek aan. Dis koud. Dis stil. Dis winter. Die gras is vaal en die bome kaal. Ek verkoop niks. Dis die 28e, die maand is amper verby. Ek maak koffie in die oggendure in ons koue kombuis en kyk op my foon na die boodskappe: Twee skilderye is van South African artists.com af bestel. Ek jubel! En ek dink aan my gebed. En ek weet. Dis die Here. Hy seën my so. Ek vertel vir Chris. Hy stem met my saam. Ons saam blywees word ‘n dubbele blydskap. Vandag is dit Maandag, ek gaan netnou poskantoor toe om uit te vind wat die posgeld sal wees. Iemand in die Kaap gaan twee skilderye teen sy muur ophang.


In Augustus bestel Omar van Engeland drie skilderye wat ek al in 2010 voltooi het. Dié drie lê my na aan die hart. Ek het dit laat raam en dit hang in ons kerk se jeuglokaal .....om kinders en jongmense bly te maak, sou hulle daarna kyk! Omar en sy vennoot is baie besig en kry nie juis kans om Bronkies toe te kom nie. Ek gaan haal die skilderye en maak dit staan hier in die voorste kamer.....en ek wag maar geduldig. Op 20 September kom haal hy sy skilderye....en gee my sommer 'n piksoen op die wang! Dis vir sy dogtertjie wat tien word se verjaarsdag. Mag dit haar elke dag bly, blyer, blyste maak! Toe hy groet, sê hy vriendelik: "We'll keep in touch!" 'n Reënboogbelofte aan my horison!
 
 
 
 
In Augustus kry ons lekker kuiermense, vriende van baie jare. Ons blaai deur die kunswerke: waterverf, akriel, olie......ek deel twee uit sommer net omdat dit lekker is en omdat ons mekaar jare der jare al ken. Retha koop een.....heerlik! Boomstamme teen die blou, met waterverf gedoen. Ek voel so bly!
 
Op 7 Oktober verkoop ek aan Estelle Duvenhage van Vredenburg (ook iemand wat lief is vir ons taal en woorde) 'n skildery wat ek in olieverf gedoen het. Heerlik gespeel met die paletmes! Ure en ure se genot wat hier vasgeverf lê. Dankie Estelle, vir jou wonderlike ondersteuning. 'n Paar jaar gelede het sy my ook ondersteun en 'n akriel-skildery van 'n maan gekoop, ek was so dankbaar. Sy geniet dit steeds, so sê sy.
 
 
Op 'n heerlike reënerige dag in November, die 8e om presies te wees, kom Grietha Opperman by ons hekkie ingestap. "Ek kom my skildery haal!" groet sy vrolik met die intrapslag. Musiek in my ore!! ♪♪
Sy koop "Die meisie met die pêrel oorring" (Hollands: Het Meisje met de Parel), dis een van die Hollandse skilder Johannes Vermeer se meesterstukke gewees en ek het dit 'n paar jaar gelede in die kunsklas by Riana Dippenaar voltooi. Dis in akriel gedoen en geraam. Grietha betaal my en ek en sy is beide in ons noppies!
 

 
 
Dankie Here. Ek weet dis U groot genade.