Showing posts with label dankbaarheid. Show all posts
Showing posts with label dankbaarheid. Show all posts

Tuesday 3 July 2012

Gedigte en duiwe


My dag begin soos duiwe
wat pofveer neerdaal op die nok
en soos 'n warm sonstraal
al die weemoed
uit die winterkoue haal


Dis duiwesang wat aan my dak kom hang
soggens as die nag sy voorkop skoon vee
 en die dag sy grys stoppelbaard begin wys.


Elizabeth Kendall ©

Sunday 17 June 2012

Oggendgedagtes-gedigte

My gebed

Mag my woorde Heer,
U welbehaaglik wees:
woorde wat oordink is
voordat dit beklink is,
woorde wat bepeins is
voordat dit geveins is
woorde wat nie
wegholbranderig
alles verwoes en verslind
verskeur, verinneweer,
vermink en kwes
of sommer dood laat bloei,
verskroei,
maar weldeurdag en goed bedoel
sodat waar my woorde wel
'n lêplek kry, 'n holte om te rus
of troos mag bring,
'n lieflik loflied sing,
daar vrede bly -

murgsag in my


Lewensvreugde

Daar is drome in haar hande
en sterre in haar oë,
sy weet hoe heerlik is dit
om aan lag en lief te glo

Sy luister na 'n geelvink
'n tiptol en t'rantaal
dis agter uit die berge
waar hul, hul fluit gaan haal

die soet, soet klank van blywees
gemeng met lekkerlag
borrel uit haar keel
vol vreugde elke dag

haar sorge gooi sy ver weg
in 'n streepsak oor die see
sy gryp die dag met blywees
en sê nie sommer nee

haar lewe is 'n loflied
met alle eer aan Hom
in donker uur van kommer
het Hy na haar gekom

en in Sy krag en liefde
het Hy haar opgetel
om dit vir almal om haar
uitbundig te vertel.

Genade

As die dorpsduiwe
douvoordag
in duet of trio
koekoerdoekkoor
oor vlei en bos en rant laat hoor
kom val vrede
in koesterklanke
soos tortelvere
in die wind
op my en jou,
my goeie vriend

vergeet ons elke pyn en seer
sluit ons oë en bid maar weer
'n binnekamer stil-gebed -
'n jubelbly oor wat ek het:

oor blinkgeel botter op ons brood
en kniewerk-kinders, lankal groot,
oor liefhêmense langs ons pad
wat heerlik aan 'n hartsnaar vat

dan trek ons wese
nie meer water nie
of kyk ons klipoog rond,
maar word ons lewe
'n skilderdoek
waar helderbont kwasstrepe lê
en pragpsalms prewelend
 kindklein dankiesê

Elizabeth Kendall ©






Wednesday 30 May 2012

Nabetragting

♪♪ “Die-ie arbeid van jou ha-ande
sal jy met vreug’ geniet
wa-an-neer die koringla-an-de
met seën hul opbrengs bied ” ♪♪

sing ek saam met die res van die gemeente en  w e g  spring my gedagtes tot op die groenwordende grasperk van ons geliefde en bekende tuin. Weg spring hulle by die swaar houtdeure van die ou kerk uit tot binne-in gister in.

Die waar woorde van die ou bekende psalm kom skop nes teen my ribbes: “Die arbeid van jou hande…” ek sien die verf: die blou , die groen, die bruin, die wit. Ek sien die wye vlaktes van ‘n oop, skoon doek. Ek voel die uitdaging. Ek beleef die opwinding. Die esel staan en wag. Musiek speel. Die wêreld raak vergete. My hart kom lê klam in my oë. Ek verf.  My siel lê tussen die kleure, my hart klop in my vingers. Ritmes en patrone maak sin op die doek.

‘n Skildery word gebore.

…..”sal jy met vreug’ geniet ”

Ek sien die baie skilderye op die grasperk staan: hier ‘n landskap, daar ‘n abstrak, hier ‘n akriel, daar ‘n olie. Ek hoor die mense praat, lag, gesels, kuier.  Ek luister na die duiwe tussen die groen van die karee en die plataan. Blydskap klim in my keel op, die vreugde van werk, die wonder van menswees, die heerlikheid om te deel met ander wat ook van dieselfde dinge hou.

Werk het werklik net plesier geword, werk is ‘n voorreg, werk is lewe. Gister was geseënd. Gister was goed. My dankbaarheid staan kiertsregop in goudgeel are op spreekwoordelike koringlande.  Ek vryf die korrels tot meel in my nabetragtingsgedagtes oor ‘n kunsuitstalling gehou op eie werf.  Ek eet my blyweesbrood omdat ek mag doen wat ek die graagste wil. Nou……. en elke dag vorentoe!

Elizabeth Kendall ©
Bg. skilderye is op S.A. Artists.com verkoop aan iemand in Engeland. (2010)