Showing posts with label bome. Show all posts
Showing posts with label bome. Show all posts

Sunday 24 June 2012

Water

Water is lewe!


Of dit nou 'n rivierstroom is wat van die rante se kant af vloei en oor
baie bruin klippe kabbel,

of 'n skuimende golf wat wit kartels oor sagte seesand uitstoot


of voortdurend beweeg en lewe soos die see maar doen.

Soms vloei dit sag en rustig en vind 'n pad tussen geel-oranje en ligroos herfsbome,
 gesels-gesels gee dit lafenis aan elkeen wat verby mag wandel.
Dikwels hang blouwit wolke vol belofte bokant die aarde
om uiteindelik uitkoms te bring waar langdurige droogtes was.
Wilde branders breek in blou en groen, die krag daarvan ... ongetem.
Die ritme van die see, die sagvloei van 'n rivier, die kabbel van 'n bergstroompie...
alles, alles bly en is 'n wonder, geskep deur 'n God wat sorg en liefhet.
(Paletmes- en waterverfkuns gedoen deur Elizabeth Kendall ©

Friday 1 June 2012

Elke "painting" het sy eie storie...

Elke "painting" het sy eie storie en hierdie storie is 'n jubelsang, 'n blymaaklied, 'n stil gebed van dankbaarheid.

Dit was 'n doodgewone dag, 'n lekker tuisbly-dag waarop ek kon doen wat ek wil. Vanselfsprekend het ek geverf, geskilder. Dis mos pure heerlikheid! En dit sou mos weer bome wees, water, klippe...my liefde vir die natuur het geen heiningdrade nie. My liefde vir God se Skepping lê wyd en ver en onbegrens: oor geel grasvlaktes en wuiwende koringlande, verby kabbelende stroompies en droë, uitgetrapte Bosveldpaadjies, langs koel strande en persblou oseane. My verwondering en bewondering vir die natuur is 'n daaglikse pasella, 'n doepa op 'n droewige dag, 'n kitsresep vir blywende vreugde.


Ek skilder op 'n x-straalplaat en dié keer met akrielverf. Na so drie, vier, vyf ure is ek amper tevrede. My liewe man is gereeld my heelbeste beoordelaar. "Baie mooi!" sê hy op sy kalm, rustige manier. Dis oorgenoeg.

Ek neem 'n foto en plak my prentjie op facebook. Binne 'n halfuur vra Sanne-Marie wat die prys is. Ons onderhandel en beklink die transaksie in die stilligheid van facebook se boodskap-boksie. Ons altwee voel bly en opgewonde en vreeslik dankbaar. Ek laat raam die skildery by Sarie van Jasapeco. Sy ken haar storie en doen dit netjies en deeglik. Deur al die jare heen het ons ook al vriendinne geword en weet ek van haar amper-knievervanging en haar liefde vir haar roostuin.


Sanne-Marie se ondersteuning is 'n groot aanmoediging. Ek's sommer lus om nog twintig riviere te skilder!

Maureenkind sien die foto op facebook en soos dit 'n goeie kind betaam, adverteer sy dit terstond ook op haar blad. 'n Gawe vriend van haar sing sy loflied ver, ver van hier:

"Out of Africa a scene from my home State of Michigan. This wondrous painting immerses me in our Northwoods. A crystal clear trout stream in the Autumn, lined with Cedar, Maple, and Pine with the hills rising in the distance. I can feel the pull of the current and imagine the trout rising to feed. I must have this work of Art!" 


  • Maureen Grobler You have a talent for writing Jim! Thank you for the beautiful compliment... I'm sure Elizabeth will appreciate your warm words... and respond ;-)


  • Jubel en juig! Ek laat weet hom ek doen kommissies. E-posse vlieg vinniger as winterswaels van Bronkies na Michigan. 'n Uitdaging lê voor my deur. Om 'n skildery te verf wat amper nes die vorige een lyk, is makliker gesê as gedaan. Een voordeel is: ek is LUS daarvoor, baie! En lus help altyd, ons weet mos nou al....

    Na drie dae dink ek, ek is klaar. Die skildery lyk nou so:


    'n Foto word Michigan toe gepos. "Jim, jy moet sê of jy tevrede is. As daar enige-iets is wat jy verander wil hê, laat weet my asb. Jy is die kliënt, dis jou voorreg. Jy moet asb. 100% gelukkig en tevrede wees", tik ek vir hom in my mooiste Engels. Die man betaal my mos, hy ondersteun my, hy vertrou my....ek moet en mag hom mos nie teleur stel nie. Is mos ordentlik grootgemaak.... ;-)

    Hy skryf die mooiste briefie terug:
    Elizabeth,
    I am in somewhat of a quandary.
    You ask if I wish any changes. I am in your grace to ask such a thing.
    I will request a bend and narrowing in the far reaches to add depth and a vision in my mind to the beyond. Also, as I live in a heavily glaciated area a boulder or two in the stream would be appreciated.
    I am hesitant and uncomfortable in my requests.I do so only as you have opened the possibility.
    I find your work remarkable.
    My kindest regards, Jim.

    "Ordentlik grootgemaak" staan tussen die ver-man se woorde.

    Ek sien in my gedagtes wat hy bedoel...en ek maak prentjies in my kop. Dit behoort nie te moeilik te wees nie. Nog 'n dag gaan verby. Die rivier kronkel dieper in die woude in, verder na agter toe, raak dowwer en verdwyn tussen die bosse van Michigan. Ver agter verskyn 'n wit heuwel, sneeu en gletsers is vaagweg te sien in die agtergrond. Meer klippe word in die blou rivierwater vasgeverf. Ek hoor die stroom se kabbellied. Iewers sing 'n blou loerie. Ek ruik die klam gras. My oë traan. Hoe heerlik is dit om my passie uit te leef, my Godgegewe talent te kan gebruik en die vreugde van werksbevrediging te kan smaak.
    "Dankie Here..." fluister ek sag.
    Toe ek klaar is, roep ek vir Chris. "Dis pragtig!" sê my heelbeste beoordelaar.

    Ek neem 'n foto en stuur dit Anderland toe. Blitssnel spring die wonderwoorde voor my oë op die skerm:
    "This is marvelous Elizabeth! You must have read my mind for surely it could not more accurately portray what to me is Pure Michigan. Thank you so much. I could not be more pleased."


    Ek is geseënd en baie dankbaar. Eerskomende Saterdag gaan ek en Chrisjan pap en kaiings eet by die Willem Prinsloo se mampoerfees om dié lekkerte te vier!
    Ns. Ek meng nie as 'n reël my taal te vreeslik erg nie, maar dié "painting" het mos sy lisensie, dit gaan mos Amerika toe!

    Wednesday 16 May 2012

    'n Passie....dis wat dit is!


    Daar is twee dinge wat ek besit wat my so baie vreugde gee: my paletmes en my vulpen. Om met 'n vulpen te skribbel is mos net heeltemal anders as om met enige ander pen te skryf. Die sensasie van nat ink op papier, die vaartbelynde lyf van 'n vulpen, die uniekheid daarvan....ag, ek HOU VAN 'n vulpen!

     So is dit ook met my paletmes. Ek het 'n hele paar van hulle: daar is een met 'n smal, lang lem, 'n kleintjie, 'n groter, vetter een... tot selfs ene met 'n vierkantige lem. Elkeen van hulle doeltreffend op sy eie manier. Dié een waarmee ek hier bo gewerk het, is egter my gunsteling. Dié mes is al so tuis in my hand soos 'n eie kind in sy ma se hartholtes. Dis 'n mes van middelmatige grootte met 'n lem wat net lekker werk en alles doen wat ek begeer. 'n Gewillige mes dus. Een van die grootste plesiere in my dag is om met dié mes te plak en te pleister, te smeer en te trek en te druk, te draai en te swaai...met 'n verskeidenheid kleure gelaai. Ek vergeet die wêreld. Ek vergeet van seerkry en hartseer en mistroostig wees. Dis wonder-oomblikke van suiwer genot, dis genade op genade. Dis dankie-blywees in die oortreffende trap. Dis jubel en juig. Dis hemels.

    En as ek klaar is en ek staan terug en bekyk my handewerk, dan stroom daar 'n blou rivier van vreugde oor my gemoed, want ek weet waarvandaan dié gawe kom. Dan voel ek skatryk en geseënd en lyk elke  môre splinternuut en mooi!

    Wednesday 2 May 2012

    Daar woon 'n kind in my....

    
     'n Prettige tekening met wateroplosbare potlode! Sommer net omdat dit lekker is!