Thursday 25 December 2014

25 Des. 2014: Die jaar waarin ons geleer het hoe om te lewe.

As ek ‘n storie oor hierdie jaar sou moes skryf, sou dit kronkel soos ‘n voetpad. Bult op en bult af. Soms was die sand sag en heerlik koel onder ons voetsole, soms was daar onverwagse dorings. Dan moes ons eers iewers in ‘n skadukol gaan sit om die dorings een vir een uit te haal sodat ons verder kon stap.

Gelukkig was daar altyd iewers lafenis, skadukoeltes. Daar was oases waar ons, ons dors kon les. Daar was uitkykpunte waarvandaan ons weer perspektief op die toekoms kon kry. En daar was deurentyd Liefde. Die wete dat ons hemelse Vader by ons is in elke klein en groot gebeurtenis, was heeljaar lank ons grootste troos. Sy liefde en trou was daagliks deel van ons kom en gaan. Ons kinders se onvoorwaardelike liefde het ons gedra. Ons familie en vriende se omgee, ondersteuning en lojaliteit was ‘n anker.

Dis Kersfees. My hart is vol dankbaarheid teenoor die Here. Ryke seëninge het ons bedou, ons het die goeie dinge aanskou. Waar daar pyn en siekte was, het Hy genesing gebring. Ons kinders is jong olyfboomplante wat uitspruit om ons dis. Ons geniet die voorreg om ons kleinkinders te aanskou. Ja, saam met die pelgrims van die Bybel sing ons ‘n loflied tot eer van God op hierdie mooi dag.



Geseënde Kersfees aan almal wat hier lees. Mag jou Kersfees ook ‘n ware Christusfees wees.  

Saturday 13 December 2014

‘n Nuwe hoofstuk

Dis Saterdag hier by ons. My hart slaan steeds tamboer oor Chris se mediese uitslae: longe is skoon, gewas het verdwyn. Dié wete lê nou al amper een hele week lank soos ‘n string blink pêrels in ons hart en hande.
Nou lê die lang herstelpad voor. My grootste begeerte is dat dié pad langs kosmospaaie en koel waterstrome verby mag kronkel. Mag daar geen slaggate op ons wag nie. Mag daar geen spoedlokvalle wees nie, mag ons geduldig en versigtig en waaksaam dié lang pad bewandel. Mag die vlam van hoop voortdurend brand. Ons wéét al teen die tyd dat mens nie oorhaastig moet wees nie. Geduld en tyd maak baie dinge reg. Die oumense het mos ook altyd só gesê.
Omdat ek lief is vir skryf, gebeur dit dikwels dat woorde deesdae sommer vanself na my toe aangehuppel kom. In dankbaarheid deel ek graag van my gedigte. Mag dit vir elkeen wat hier lees  ‘n inspirasie wees:
Oorvloed
My blyweeswoorde staan stoutkind
in ‘n ry, druk mekaar, stamp en stoot
om vóór te kan staan, éérste te wees,
éérste te sê hoe yslikgroot
die dankies in my binnekamers
op hierdie varsnat môre lê
Elizabeth Kendall ©

Tuis
Tussen al die wonderwoorde
wat wegkruip in my taal
wil ek vir jou alleen,
die heelmooistes uit gaan haal
dit is die witklippiewoorde
wat op ‘n donker paadjie lê
maar in helder maanskyn
alles vir ons sê
Elizabeth Kendall ©

Binneste
Daar’s ‘n plek ver verby seer
diep weggesteek agter die holtes van weet
en die mooi van onthou,
‘n plek waar gedagtes  aan jou
snikkend en rou
legkaartlê met hoop en wense,
ongesê
Elizabeth Kendall ©

Toe hierdie dag begin, lees ek uit Psalm 119: “My hele lewe lê oop voor U.” Die wete dat God ons getroue Vader is en alles sien en weet, is ons grootste anker en troos.