Friday, 28 September 2012

My omgewing


Dis somer in Bronkhorstspruit. Om my is die wêreld groen. Die akkerboom het haar mooiste groen rok aangetrek. Smiddae na half vyf kom lê die sonstrale warm teen my boom se growwe takke. Duiwe sit knus en koer tussen die blare. Die klimop rank die voorste muur van ons erf toe, dit rank oor verweerde houtstompe. Dit klim teen die voorkamer se buitemuur op. Dit klou aan die rooi bakstene van die outydse vensterbank vas.  

 
Onder die karee lag oranjerooi boslelies oopmond. ‘n Geelvink bou sy nes bo aan een van die dunste takkies. Stukkies gras en blare val grond toe. ‘n Lyster wip oor die grasperk. Sy geel snawel blink in die son.

Oranje botterblomme en persblou gesiggies groei welig in die bedding naby die voëls se waterbak. Ek pluk ‘n takkie roosmaryn af en vryf dit tussen duim en voorvingers. Die geur daarvan klou aan my hande vas.
 
 
n Motor ry verby ons huis. Iemand druk bont advertensieblaaie in die gleuf by die voorhekkie. Die duiwe vlieg fladderend weg. Ons swart hond blaf hard. Iewers lui ‘n telefoon . 

Ek maak die deur oop en stap my werkkamer binne. ‘n Ligte windjie laat die gordyn by die oop venster beweeg. “Twiet twieteriet!” fluit ‘n mossie buite in die tuin.  Dis somer in Bronkhorstspruit.
 

Saturday, 22 September 2012

Skilder met koffie

Wie het gesê koffie is net daar om gedrink te word? Op RedBubble het ek eendag gesien iemand gebruik koffie soos verf....en skilder daarmee. Ek was onmiddellik geïnspireerd en het dit ook probeer! Hier is 'n paar van my koffie en potlood- of pensketse. Geniet dit!
 

Kaalvoet in die reën.
 

En sommer nog een: "Dancing in the rain!" Beide is verkoop. Ek is gewillig om kommissies te doen indien iemand sou belang stel....dis elke keer 'n uitdaging om hande of voete te teken, want maklik is dit nie. Ek het die koffie telkens hier net as agtergrond gebruik....en dit het sooooo lekker geruik!
 
 
"Trust."
Koerantpapier as agtergrond gebruik, heerlik gespeel!
Friendship is a single soul dwelling in two bodies. Aristotle
Coffee and newspaper background, Derwent Graphic HB pencil, Parker pen and black ink, white gouche paint on Acrylic Colour Pad 400gsm paper.
 


Wag / Waiting
 
Hierdie tekening het my laat dink aan jare gelede toe ons tieners was, toe liefde soms net bewondering was, toe bewondering nog nie in woorde gesê kon word nie......want ons was te skaam.
 
 
'n Stukkie Afrika....
 


 
 
 

Friday, 21 September 2012

Hier lewe ek!

Smiddae so teen half vyf se kant kom klim die saligheid oor my siel. Dan is die dag se take min of meer afgehandel. Dan wil ek buite wees, die vrede van die tuin indrink en my verlustig in die vrolike en vars spore van 'n nuwe seisoen wat oral te siene is.

By die agterdeur op die perskeboom se growwe tak, sit 'n babaduifie. Tjoepstil. Ek staan een armlengte van haar af. Sy sit rustig en steur haar nie aan my nie. Tevrede. Haar vere is sag en donsig.  Dié goue oomblike word minute vol verwondering.

 
Die laat middagson val sag op die kaktus se helderpienk blommetjies. My oë kuier oor die mooi daarvan.
 
 
Dan sien ek dit raak: oor 'n paar dae gaan die litroos 'n fees van blomme wees. Oral is nuwe lewe. Ek hoor God se stem: " Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen."
 
 
Tussen die woestynrosies se goudgeel blomme dartel 'n by lewensbly.
 


Ek vryf met my kaal hande oor die gladde klippe wat ons van Letsitele af gebring het lankal terug. Elke klip in ons tuin vertel sy eie storie. En al dié stories is mooi, lekkerluister-verhale van geseënde en goeie jare wat verby is......

 
 
Aan die kant van die erf in die voortuin kombers die klimop oor die groot, ou karee wat my oorlede Ma nog hier geplant het. Sagte skadu's val oor die agapanthe en boslelies wat aan sy voete groei. In hierdie hoek wag heerlike koeltes op 'n warm somersdag.
 
 

Hier word drome dikwels gebore of versies uitgedink. Hier kry ek inspirasie.  Hier luister ek na die duiwe se voortdurende koe-koerliedere. Dis agtergrondmusiek in my tuisdorp, ja regtig.

 
 
Aan die appelkoosboom se tak hang die glasogies en langstert muisvoëls se lemoenskil opgekrul, spesiaal so afgeskil dat daar nog oorgenoeg lemoen is vir hulle om aan te peusel.
Die oranje, groen en bruin maak 'n mooi prentjie teen die laatmiddag se blou.
 
 
Soos so dikwels vantevore, kom daar groot kalmte en vrede in my hart as ek deur die tuin wandel.

 
Die lugplant het min nodig om te oorleef. Ons kan so baie uit die natuur leer...


 
 
Toe die son in die weste begin sak, wéét ek weer van vooraf: God is in beheer.
 
 
Elizabeth Kendall ©
 


 
 

 
 

Monday, 17 September 2012

Vertrou net


 
In die stilste uur van ‘n nanag
worstel en woel gedagtes onvermoeid -
klouter trippeltrap in my hartkamers
en laat die slaap wegkruipertjie speel
tussen gisters en môres……
dan vou ek my hande en sluit my oë
geboë
prewel ek in deurmekaar sinne

en vertel van alles binne
stort dit uit soos water –
en wag
vir die nuwe dag


               Elizabeth Kendall ©
 
 

Friday, 7 September 2012

Die wete.


Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n heerlike wete.
 Dis gerusstellend, vertroostend, bemoedigend, verkwikkend.  Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus. Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies. 
Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike gevoel van afwagting. Ná  die milde  reën ontwaak die wêreld:  die tuin begin blom, die vinkneste swaai vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind. Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut.  Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te bly!

Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe met ‘n lied in ons harte.  Selfs al sou ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my. So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op die plaveisel my ook  sê.  Daarom stap ek en jy  moedig deur die donker skaduwees tot by die lig. Ons is nooit alleen nie.  God is in beheer.  Hy is elke dag by ons.